
Drie verdagtes is vasgetrek na ’n jaagtog deur die middedorp vanoggend.
Volgens ’n ooggetuie het hy die drie mans by OTMs by die Pick n Pay sentrum opgemerk.
Hul optrede was verdag en hy het hulle agterna gesit.
Die verdagtes het na Pitstop Vulstasie gery waar hulle ’n vrou wat besig was om geld by die OTM te onttrek, te hinder en glo vir haar gesê haar kaart is verkeerd ingesit en ook knoppies op die skerm begin druk.
Dit is toe dat mnr. Johan Wolvaart (ooggetuie) ingetree en alarm gemaak het.
Daarna het ’n jaagtog ontstaan met Acsu, polisie en lede van die buurtwag wat die verdagtes agterna gesit het.
Skote is gedurende die tyd afgevuur. Dit is nog nie duidelik wie die skote gevuur het nie.
Die jaagtog het by die Total Vulstasie op die hoek van Murray- en Joubertstraat tot ’n einde gekom toe die agtervolgers die motor waarin die verdagtes gereis het, se bande geskiet het.
Die verdagtes het uitmekaar gespaander, maar is gou gevang.
Dit is nog nie duidelik of hulle die vrou wou roof nie en die moontlikheid van ’n sindikaat wat kaarte kloon word ook ondersoek.
Hou die Hoëvelder se webblad dop vir meer inligting.



