SECUNDA – Mnr. Hendrik van Staden het op 15 Maart 2010 na ’n losskrum verlam op die rugbyveld bly lê, maar het dokters se diagnose verkeerd bewys en is vandag die skeidsregter vir die Pumas.
Hy was 16 jaar oud en het as slot vir die 0/16-rugbyspan van Hoërskool Secunda gespeel.
Hy het tydens ’n tuiswedstryd teen Hoërskool Volksrust dubbel gevou en bly lê.
Hendrik is per ambulans na die Mediclinic Highveld vervoer waar X-strale getoon het dat sy werwels baie seer gekry het en dat een werwel gebreek was.
Sy ouers, mnr. Hendrik en me. Riana van Staden, het op daardie stadium van plaaslike dokters verneem dat hul seun nooit weer sou loop nie.
Hy is na die Unitas Hospitaal in Centurion oorgeplaas waar hy in die hoësorgeenheid opgeneem is.
Oor wat daardie dag gebeur het, praat Hendrik graag.
“Ek is van voor geduik kort nadat die bal na my toe aangegee is.
“Ek het omgedraai en die bal probeer uitgee.
“My voete is bo-oor my kop gelig en toe val die hele skrum op my.
“Ek was dubbel gevou.”
Sy ouers was langs die veld.
Mnr. Van Staden was die vlagman tydens die wedstryd.
“Niks kan beskryf hoe dit voel om jou kind só te sien nie,” het mnr. Van Staden gesê.
Me. Van Staden het bygevoeg: “Ek was heeltemal histeries.
“Sy lyf was totaal verwronge.”
Die dokter wat die x-strale geneem het, het bevestig dat sy rug gebreek was en dat hulle eers oor ses weke sou weet of hy ’n rolstoel of ’n operasie sou kry.
Rugby was nog altyd Hendrik se passie en sy droom was om vir die Blou Bulle uit te draf.
Met die oorplasing na die hospitaal in Centurion, het Hendrik in die ambulans vir sy pa gesê hy voel miere op sy bene loop.
Sy ouers het geweier om die diagnose te aanvaar.
Hulle het dadelik gebedsgroepe begin om vir hul kind se genesing te bid.
Hendrik het die volgende dag sy tone beweeg.
Die ortopediese spesialis het na die x-strale gekyk en bevestig dat sy T6-werwel beskadig was en dat die T7-werwel gebreek het en tot permanente verlamming sou lei.
Hendrik het gesê dat hy heeltyd gedink het alles was ’n grap totdat die traumadokter vir hom gesê het hy was beslis verlam.
Pastore en kerkgroepe het landwyd vir hom begin bid.
Nadat Hendrik beweging in sy bene en voete gekry het, het die spesialis hom vir ’n MRI-skandering gestuur.
Nie eers dié toets kon enige fout met sy werwels optel nie.
Die ortopediese spesialis het gese dat hy nie weet hoe om dit te verduidelik nie.
Mnr. Van Staden het vir die dokter gesê: “My God is groter as enige dokter.
“Ek verstaan my kind se genesing.”
Hendrik het gesê: “Ek is genees en ’n lopende getuienis van God se krag.”
Hy is die Woensdag na die ongeluk ontslaan.
“God was met my en Hy het my genees.”
“Na my ontslag, het mnr. André Watson my geskakel om uit te vind of ek ’n skeidsregter wil wees.
“Ek het ingestem.”
Sy droom om dalk eendag ’n internasionale skeidsregter te wees, blyk binne dié man se bereik te wees.
“Voor wedstryde praat ek met spelers om veilig te wees en lewer my getuienis.
“Só bring ek God se Woord aan ander.
“My grootste droom is egter om te kan preek en my getuienis te lewer oor wat God in my lewe gedoen het.
“As Hy my weer kon laat loop, is niks anders onmoontlik nie.”
Hy is getroud en die pa van ’n tweejarige seuntjie.
Hendrik rig ook atlete in die Sasol Gimnasium af en hou homself só fiks.
Sy enigste bekommernis tans is dat die son net een deel van sy bene bruin brand.



