
Die tyd het aangereek vir mnr. Herman Roodt om die tuig as hoof van Nederland Park Secondary School (NPSS) neer te lê en Ermelo te verruil vir die rustige, kultuurryke lewe van die Kaap.
Dié geliefde onderwyser, kultuurman en skoolhoof is in Ermelo gebore en het in 1973 aan die Hoërskool Ermelo gematrikuleer.
Ná twee jaar se diensplig, het hy onderwys aan die Universiteit van Potchefstroom studeer en in 1989 het hy met sy sielsmaat, Anita, getrou.
In 1980 het hy sy eerste onderwyspos by Ligbron Akademie vir Tegnologie aanvaar en Anita het later ook as onderwyser by dié skool aangesluit.
Die egpaar is bekend vir hul liefde vir die verhoog en het saam hul passie met koffiehuiskonserte begin uitleef.
Herman onthou hul eerste produksie, “‘n Sederval in Waterkloof”, onder leiding van Hettie MacKay soos gister.
Sedertdien het hulle ongeveer 15 ander opvoerings die lig laat sien.
Ná 32 jaar diens by Ligbron, het Herman die uitdaging aanvaar om ‘n nuwe skool te begin en aan die stuur daarvan te wees.
In Januarie 2012 het die nuwe skool met 80 leerlinge en vyf onderwysers in die Ithemba Leersentrum in Wesselton begin.
Volgens Herman het hulle vir die eerste twee jaar geen handboeke ontvang nie en hy onthou hoe hy elke dag moes rondry om fotostate van die leerstof te maak.
Vandag staan NPSS se leerlingtal op 620 en is daar 25 onderwysers.
Vanjaar is ook ’n besondere een vir NPSS met die eerste groep gr.12-leerlinge wat hul matriekeindeksamen skryf.
Herman hoop dat sy nalatenskap aan elke leerling sal wees dat hulle as gebalanseerde en goed-toegeruste volwassenes ’n waardevolle rol in die gemeenskap sal inneem.
“Ek het die voorreg gehad om jongmense se lewens te raak en hoop te gee vir die toekoms,” sê Herman.
Die egpaar beplan om later vanjaar na Somerset-Wes te verhuis en sien uit daarna om ‘n paar uur af te knyp om rustig ’n boek te kan lees, hul kultuurlus te stil en selfs ’n bergfietsroete aan te durf.
Vrydag sal Herman die laaste keer sy das en baadjie aantrek as hy vir oulaas die skoolklok lui en dié hoofstuk afsluit om voor te berei vir hul nuwe lewe in die Kaap.



