SECUNDA – Letticha Potgieter en Alonso van Schalkwyk is op 18 Mei as Mej. en Mnr. Oosterland aangewys tydens Hoërskool Oosterland se jaarlikse Mnr. en Mej. Oosterland-kompetisies in die Graceland Arena op 18 Mei.
Die tema van die aand was karnaval en die deelnemers het moeite gedoen om seker te maak hul uitrustings beeld dié tema uit.
Daar was narre, speelkaarte, blomme, ballonne, vere, linte en sirkustente.
Elke deelnemer het verskeie kere van uitrusting verander en daar was ook uitdagende danspassies en toertjies.
Stefan Ludick was die aanbieder en die orkes Elvis se Seun, het gesorg vir musikale vermaak, terwyl die beoordelaars punte opgetel het en die deelnemers weer van uitrusting verander het.
Dit was duidelik dat die leerlinge, ouers en deelnemers die aand geniet het, maar een van die hoogtepunte was beslis toe die onderwysers die verhoog in hul mooiste klere betree het en soos internasionale modelle glimlagte en heupswaaie uitgedeel het.
Veronica Botha en Henco Combrinck is die eerste prinses en prins en Bianca Oosthuysen en Monré de Langen die tweede prinses en prins.





