NewsSchools

Bloubloedspanne tweemaal trots

Ligbron spog vir die derde agtereenvolgende jaar met vyf Mpumalanga-rugbykampioenspanne.

Die vreugdevure brand hoog in die kamp van Ligbron Akademie vir Tegnologie ná die 0/16- en die eerste rugbyspan se seges die afgelope naweek in die eindstryde van die Mpumalanga Grootskoolliga.

Die skool spog vir die derde agtereenvolgende jaar met vyf Mpumalanga-rugbykampioenspanne.

Die John Wright Veneers eerste rugbyspan is Saterdag op sy tuisveld as die Mpumalanga-kampioen gekroon nadat hy Hoërskool Secunda met 27 – 20 in die eindstryd geklop het.

Met ‘n tafel wat vroeër deur die 0/16A’s se skitterende oorwinning oor Hoërskool Standerton gedek is, het die eerste span onder luide toejuiging van die tuisskare uitgedraf.

Die Liggies het in hulle rooi truie gespeel, nadat hulle reeds die wit trui verdien het in die eindstryd van die Superreeks.

Vier eindstryde is Saterdag op Ligbron se veld gespeel.
Al vier wedstryde is lewendig op televisie gebeeldsend met bekende sportkommentator Arnold Geerts wat al die aksie beskryf het.

Vroeër die oggend het die 0/14A-spanne van Hoërskool Rob Ferreira en Hoërskool Piet Retief teen mekaar te staan gekom en die 0/15A-spanne van Hoërskool Genl Hertzog en Hoërskool Secunda het teen mekaar kragte gemeet.

In die hoofwedstryd was Ligbron rusttyd met 5 – 14 agter en min glimlagte was op die gesigte van die tuisspan se ondersteuers te bespeur.

Calvin Clack het Ligbron se enigste drie in die eerste helfte gedruk.

Secunda het foute van die Liggies uitgebuit en twee opportunistiese drieë vanuit hulle eie kwartgebied gedruk toe Ligbron op die aanval was.

In die tweede helfte het Ligbron puik spel gelewer en Secunda telkens in hulle eie helfte vasgepen.
Eddie Dludlu, JP Labuschagne en Calvin Clack (tweede drie) het ná goeie spel afgerond en het elkeen ‘n drie aangeteken.

Gert Cronjé het met ‘n strafskop en ‘n doelskop geslaag en Thabiso Mkhwebane het ook ‘n drie verdoel.

Calvin Clack is welverdiend as Speler van die Wedstryd aangewys wat aan hom ‘n tjek van R500 van Nashua Ermelo besorg het.

Die 0/16A-span is ook gekroon as Mpumalanga-kampioen nadat hulle Hoërskool Standerton met 26 – 18 geklop het.
Njabulo Mahlobo het twee drieë gedruk wat deur Marco Coetzee verdoel is om die rustyd telling op 14 – 11 te staan te bring.

Nathan Vienings en Njabulo Mahlobo het in die tweede helfte nog twee drieë gedruk waarvan een deur Marco Coetzee verdoel is.

Nathan Vienings is ook as Speler van die Wedstryd gekies en ‘n tjek van R500 van Nashua Ermelo ontvang.

Albei dié spanne speel op 13 Augustus in die Beeldtrofee-kwarteindstryd.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button