
Ligbron Akademie vir Tegnologie se krieketspanne het die afgelope week uitstekende prestasies gelewer.
Die eerstespan het Saterdag Hoërskool Secunda se tweede span op die Liggies se tuisveld aangedurf en die besoekers met nege paaltjies oorrompel.
Secunda het eerste gekolf en 182 lopies almal uit in 46.3 boulbeurte aangeteken. Nicky Janse van Rensburg het goed geboul en kon spog met syfers van 4/28 in 8.3 boulbeurte.
Ligbron het die verlangde lopies na slegs 25.4 boulbeurte behaal en het slegs die paaltjie van Stefan Stapelberg verloor wat deur Secunda se paaltjiewagter gestonk is.
Daarna het Thando Nkosi (53 n.u.n.) en JP Labuschagne (68 n.u.n.) uitstekend gekolf en onder die Secunda boulers ingeklim om die wenteiken op ’n drafstap te behaal.
Die 0/15A-span het tuis teen Hoërskool Hoogenhout te staan gekom. Ligbron het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.
Charl du Toit (43) en Aldo Myburgh (40) het Ligbron se kolfbeurt goed op dreef gebring met ’n openingsvenootskap van 96 lopies. Dian Bakker het ‘n vinnige 21 lopies aangeteken en is goed ondersteun deur Ruben Herbst wat 54 baie goeie lopies aanteken het. Ligbron se derde paaltjie het gekantel met die telling op 145 lopies.
Mark Niebuhr (35) en Hendrico Jooste (36) het Ligbron se telling na 287/6 geneem en Ligbron eindig op 309/8 ná 50 boulbeurte.
Hoogenhout was gou in die moeilikheid toe die eerste paaltjie gekantel het met slegs 8 lopies op die telbord. Toe die derde paaltjie op 116 lopies gekantel het ná ’n terugvegpoging het die paaltjies met reëlmaat geval danksy ’n verwoestende boulskof van Ruben Herbst wat 5 paaltjies (insluitende ’n driekuns) in 5 boulbeurte ingeoes het terwyl hy slegs 15 lopies afgestaan het.
Twee uitstekende vangkanse in die glippe deur Zartius Swart het Hoogenhout se kolfbeurt op 157 lopies in 24.1 boulbeurte beëindig. Ligbron het die wedstryd met 152 lopies gewen.
Ander uitslae is:
0/15B verloor met 43 lopies teen Hoërskool Volksrust.
0/14’s wen met sewe paaltjies teen Hoërskool Ermelo.



