Paulette werk met kinders met outisme en genetiese afwykings
Arbeidsterapeute gebruik wetenskaplikgekose, sinvolle aktiwiteite om mense met inperkings of geremdhede te help om optimaal te funksioneer.
BETHAL – Om ’n passie vir mense te hê, is ’n gawe en me. Paulette Nel glo dat dit haar roeping is om met van kinders tot bejaardes as arbeidsterapeut te werk.
Dit is ook altyd vir haar bevredigend om ’n deurbraak met ’n pasiënt te maak.
Me. Nel het op Bethal grootgeword en het haar graad in arbeidsterapie aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Sy het meer oor wat arbeidsterapie behels, verduidelik.
“Arbeidsterapie was vir my die perfekte beroep vir eendag as ek ’n ma sou word omdat ek my werk só kan skeduleer om tyd vir my eie gesin in te ruim,” het sy gesê.
Arbeidsterapeute gebruik wetenskaplikgekose, sinvolle aktiwiteite om mense met inperkings of geremdhede te help om optimaal te funksioneer.
Dit bemagtig hulle om so onafhanklik as moontlik te funksioneer sonder dat hul menswaardigheid aangetas word.
Arbeidsterapeute fokus op lewensgehalte wat die komponente van persoonlike versorging, werk, sowel as vryetydsbesteding insluit.
Me. Nel werk tans in die pediatrieveld waar sy op kinders met ontwikkelingsagterstande, hiperaktiwiteit en aandagafleibaarheid fokus.
Sy werk ook met kinders met outisme en genetiese afwykings.
Me. Nel het self ook ’n kind met ’n gestremdheid en vandaar haar empatie met ouers wat ’n moeilike pad moet stap weens ’n diagnose.
As jy die diens van ’n arbeidsterapeut benodig, skakel Occupational Therapy Association of South Africa by 012 362 5457.



