Lekwa Munisipaliteit klop na bewering aan Sasol se deur vir hulp
Weens wanbetaling vir dienste gelewer, kon nuwe toerusting of gereedskap nie gekoop word nie.
Inwoners van Standerton sit hande in die hare omdat hulle soveel keer met kragonderbrekings te doen kry wat soms baie langer duur as waarop hulle voorbereid is.
Na bewering het die Lekwa Munisipaliteit aansoek gedoen by Sasol, volgens hulle Social Labour Plan, vir elektriese gereedskap en toerusting om die bestaande toerusting aan te vul en op te gradeer.
Sasol se Social Labour Plan-span is blykbaar besig met die aansoek en hopelik sal dit die munisipaliteit in staat stel om die groot hoeveelheid kragonderbrekings wat inwoners tans beleef, te verminder of heeltemal uit te skakel.
’n Betroubare bron het aan Standerton Advertiser gesê dat die gereedskap en toerusting deur die jare verouderd en verlore geraak het en dat weens wanbetaling vir dienste gelewer, nuwe toerusting of gereedskap nie gekoop kon word nie.
Volgens dié bron sal elke elektrisiën in diens van Lekwa ’n volledige gereedskapkis hê om die werk te doen wat van hulle verwag word as die aansoek sou slaag.
Klaarblyklik is foutopsporingstoestelle wat sal help om foute vinniger op te spoor en te herstel onder die toerusting waarvoor aansoek gedoen is.
Die Standerton Advertiser het ’n navraag ter bevestiging van die gerugte aan me. Thobeka Mtshiselwa, woordvoerder van die munisipaliteit, op twee geleenthede gestuur, waarvan die laaste 21 November gedateer is, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.



