Raadslede van die VF Plus veg reeds sedert Augustus verlede jaar met Govan Mbeki Munisipaliteit oor onwettige grondgebruik, die verontagsaming van hersoneringsvereistes, onwettige bouwerk, gevaarlike verkeersituasies en die versuim om toepaslike munisipale wetgewing toe te pas.
Dit kom nadat ’n onderneming in Wolseleystraat en Trichardtstraat op Secunda ’n onwettige parkeerterrein gevestig het.
Volgens Aranda Nel-Buitendag, VF Plus-raadslid, het die VF plus sedert Augstus verlede jaar toe hulle ’n klag by die openbare beskermeer ingedien het herhaaldelik met die munisipale bestuurder asook senior amptenare gekorrespondeer en daar is geen stappe geneem om die wette toe te pas nie.
“Ons is bekommerd oor moontlike oortredings van die Wet op ruimtelike beplanning en grondgebruikbestuur, beplanningsverordeninge, bouregulasies en die onwettige gebruik van munisipale grond,” het Nel-Buitendag gesê.
“Gevaarlike verkeersomstandighede wat ontstaan het weens sakebedrywighede vanaf ’n residensiële erf was ook vir ons ’n probleem.”
Die VF Plus het op 9 April vanjaar ’n opvolgbrief waarin hulle weer die risiko’s beklemtoon het aan die munisipaliteit gestuur nadat ’n ongeluk op 7 April by die toegangspunt van dié onderneming plaasgevind het.
“Ten spyte van die munisipaliteit se grondwetlike en administratiewe plig om openbare veiligheid te beskerm en wetgewing toe te pas, is herhaalde waarskuwings en versoeke van ons kant af geïgnoreer.
“Weens dié versuim het ons die saak formeel by die Mpumalanga se Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake (Coghsta) aangemeld met ’n versoek vir ingryping.”
Die VF Plus verwelkom die openbare beskermer se bevestiging dat hulle die klagte ontvang het en dit tans assesseer.
ALSO READ: Terra Nova in Trichardt invests R18m in wastewater to drinking water plant
“Vir die VF Plus gaan dit nie bloot oor ’n stuk grond of ’n enkele voorval nie, maar oor die veiligheid van inwoners, die regte van gemeenskappe en die verantwoordelikheid van ’n munisipaliteit om op waarskuwings te reageer voordat mense se lewe in gevaar gestel word.
“Geen inwoner behoort blootgestel te word aan risiko’s wat spruit uit administratiewe nalatigheid of bestuursmislukkings nie.
“Wette en veiligheidsregulasies bestaan om gemeenskappe te beskerm en moet konsekwent en sonder vrees of guns toegepas word.
“Die VF Plus sal die saak noukeurig monitor en alle beskikbare prosesse volg om aanspreeklikheid, deursigtigheid en die beskerming van openbare veiligheid te verseker.”
Die munisipaliteit het aangedui ‘n kommentaar is in die pyplyn.
ALSO READ: Roadworks setback leaves Bethal-Kriel route riddled with potholes again



