NewsSchools

Hoërskool Secunda se groentjiekonsert laat mens terugverlang na eenvoudiger tye

Die Knolle van 2017 vermaak toeskouers met energie en humor op die verhoog.

SECUNDA – Min dinge voel soveel soos hoërskool soos die musikale mengelmoes en deurmekaar danspassies van ’n groentjiekonsert.

Hoërskool Secunda se nuwe gr. 8 leerders, of Knolle soos hulle by dié skool bekendstaan, het verlede Donderdag- en Vrydagaand ouers en onderwysers vermaak met ’n moderne oorvertelling van Trompie en Saartjie se skoolkaskanades.

Die konsert, Jou huis is waar jou hart is, het al die bekende eienskappe van ’n lekker saamsing skoolkonsert gehad met treffers soos “Thunderstruck” van ACDC, “Any Man of Mine” van Shania Twain en “Hier kom die Bokke” van Leon Schuster.

Die leerders het duidelik die opvoering geniet en daar was baie energie en opgewonde glimlagte op die verhoog.

Saartjie en haar vriendinne laat Trompie en sy makkers se harte vinniger klop en die onskuldige eerste liefde wat blom tussen Rooies en Anna, het beslis die ouers en onderwysers wat kom kyk het, laat terugverlang na eenvoudiger tye.

Die seuns kom in die moeilikheid nadat hulle by ’n geveg met Gawie betrokke raak, wat ook flikkers gooi in Saartjie se rigting, en moet dan vlug sodat hul ouers nie geskakel word nie.

Hulle kruip weg in ’n boomhuis en besluit om eerder permanent weg te hardloop.

Met oorlewingsmiddels wat hulle bymekaar maak, wat onder andere ’n ou koerant, ’n appelstronk en twee dae oue Marmite-broodjies insluit, besef hulle gou-gou dat hulle nie vêr gaan kom nie.

Saartjie, Anna en Nina kom tot hul redding met ’n houer toebroodjies en die seuns se soektog na ’n nuwe huis begin.

Middelburg, Trichardt en Evander word gemeet en te lig gevind en uiteindelik besef die viermanskap dat daar net een plek vir hulle is.

Hulle vind hul pad terug na Secunda en besef mens kan nie weghardloop van jou probleme af nie.

Die Knolle van 2017 het voorwaar hul harte uitgedans en dié konsert het gewys dat daar baie van vanjaar se gr. 8-leerders verwag kan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button