Groot skade na vloedreën
Inwoners se hoenders is deur die water meegesleur en is teen ’n heining vasgedruk en het verdrink.
BETHAL – Inwoners se huise het Maandag, 30 Januarie oorstroom nadat 100mm reën in ’n halfuur op die dorp uitgesak het.
Die skade beloop duisende rande.
Swembaddens en Jacuzzi’s is vol modderwater.
Inwoners se hoenders is deur die water meegesleur en is teen ’n heining vasgedruk en het verdrink.
“Dit het so vinnig gebeur,” het ’n Bethaller vertel.
“Ons het nie gedink dat dit so baie reën nie en die volgende oomblik was dit asof daar ’n wolkbreuk is.
“Die water het net aanhou kom.
“Alles het verspoel en al wat ons kon doen, was om te staan en kyk.
“Dit het nie eers gehelp om die water te probeer keer nie.”
Watervlakke het tot enkeldiepte deur erwe en huise gestroom.
“My gordyne het in die water gehang en die motorhuis is ook vol modder.
“Die stoep was onder water en die water het later in die huis gestroom.
“Hier is nog baie herstelwerk wat gedoen moet word,” het ’n ander inwoner gesê.
Paaie het oorstroom en die Nestlé-brug het vermoedelik verspoel.
Vullissakke wat nie verwyder is nie, het van sypaadjies af tot in die pad gespoel.
Milanpark, eMzinoni en Evander het meer as 100mm reën gehad.







