Local newsNews

Alison Botha kuier op Secunda vir Vroue Biddag

Sy glo ’n verskeindenheid klein wonderwerkies het haar lewe gered en hoop om deur haar lewensverhaal, mense te leer om te vergewe en selfliefde te vind.

SECUNDA – Me. Alison Botha het op Vrydag, 3 Maart ’n inspirerende praatjie by die N.G. Kerk Secunda Oosgemeente gelewer as deel van Internasionale Biddag vir Vroue.

Sy het haar gru-storie vertel en lewenslesse gedeel tydens die byeenkoms wat deur talle vroue en dogters van Hoërskool Oosterland bygewoon is.

Haar storie het vir die eerste keer nuus gemaak in 1994 toe sy buite haar huis ontvoer en na ’n verlate strandstraatjie in Noordhoek, Port Elizabeth geneem is.

Sy is deur twee mans verkrag, verwurg en herhaaldelik met ’n mes in die maag gesteek.

Die mans het 16 keer probeer om haar keel af te sny.

Hulle het met haar motor gevlug en haar vir die dood agtergelaat.

Voordat me. Botha die moed gevind het om op te staan en hulp te soek, het sy die mans se name in die sand langs haar geskryf indien sy sou sterf sodat die polisie sou weet wie haar moodenaars is.

Sy het ook aan haar ma geskryf dat sy lief is vir haar.

Me. Botha moes haar kop op haar nek hou en haar ingewande met ’n bebloede hemp wat die mans agtergelaat het, inhou terwyl sy vir hulp na die naaste pad gekruip het.

Sy het baie geval en was naby aan opgee, maar het nie hoop verloor nie.

Sy is deur ’n groep mense, waaronder ’n veeartsenykunde student wat druk op haar wonde geplaas het terwyl die ander die ambulans ontbied het, gevind.

Hulle het twee ure vir die ambulans gewag.

Me. Botha glo dat dit ’n wonderwerk is dat die dokter aan diens by die hospitaal ’n oor-, neus- en keelspesialis was.

Frans du Toit wat al van tevore vir verkragting aangekla is, en Theuns Kruger wat albei besluit het om daardie aand te na iemand te soek om te verkrag en te vermoor, is in hegtenis geneem en gevonnis.

Hoewel me. Botha, nou die ma van twee seuns, nog die littekens van die voorval dra, laat sy haar nie onderkry nie en glo dat as dit nie vir verandering was nie, sou daar nie skoenlappers wees nie.

Sy het die oortreders vergewe om haarself toe te laat om van die fisiese en emosionele trauma wat sy ondervind het, te herstel maar glo steeds hulle hoort agter tralies.

“God het my gered met ’n doel,” het sy gesê.

“Ek wou nie ophou leef nie, daar was te veel wat ek gevoel het ek nog moes bereik.”

Me. Botha se ma het haar geleer dat sy spesiaal is en daarom het sy nie ophou veg vir haar lewe nie.

Sy glo ’n verskeindenheid klein wonderwerkies het haar lewe gered en hoop om deur haar lewensverhaal, mense te leer om te vergewe en selfliefde te vind.

Me. Botha het die boek I have life oor haar ondervinding geskryf en daar is ook in 2016 ’n dokumentêre film, Alison, gemaak.

Almal teenwoordig het na die praatjie, saam vir ’n beter Suid-Afrika gebid.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button