Kyle moet nog operasies ondergaan
Kyle word drie keer vandeesweek geopereer om sy wonde skoon te hou en die gebrande dele vir veloorplantings voor te berei.
BETHAL – Die 11-jarige Kyle Werner wat Vrydag, 3 Maart by sy huis op Bethal brandwonde opgedoen het, sterk goed aan.
Dié leerder van Laerskool H.M. Swart ontvang steeds behandeling vir sy wonde in die hoësorgeenheid van Netcare Clinton Hospitaal op Alberton.
Die Werner-gesin gaan so gereeld as moontlik om Kyle in die hospitaal te besoek.
Hoewel sy wonde infeksie gekry het, het die dokters gou gereageer en hom op ’n kursus antibiotika gesit en het die infeksie stopgesit.
Kyle word drie keer vandeesweek geopereer om sy wonde skoon te hou en die gebrande dele vir veloorplantings voor te berei.
Hy moes ook ’n bloedoortapping kry tydens sy vorige operasie omdat sy wonde erg gebloei het.
Die dokters voorspel dat hy met elke operasie bloed gaan nodig hê omdat hy baie bloed tydens elke operasie verloor.
Dooie weefsel word tydens die operasies tot op die vel se vetlaag afgesny.
Kyle sukkel steeds om te eet en verduur nog baie pyn en ongemak.
Sy linkerbeen veroorsaak ook baie pyn.
Hy kry ook fisioterapie.
Sy ma, me. Engela Werner, het gesê Kyle hou moed deur al sy omgeebriefies te lees wat hy ontvang.
“Hy is baie sterk,” het sy gesê.
Kyle voel nou meer gerus noudat hy sy sagte speelgoedhond, Babsie, by hom kan hou.
“Hy is baie emosioneel en sê heeltyd vir sy pappa hy is jammer en dat hy baie spyt is hy het met die brandstof gespeel,” het me. Werner gesê.
Sy het ook op die Whatsapp groep “Kyle, ons Engelseun” almal vir hul liefde, omgee en gebede bedank.




