Willie Meintjes wil 500 wedlope voltooi
“As hy daardie dag met sy regterhand gewerk het, sou die yster sy lyf deurboor het.”
SECUNDA – Mnr. Willie Meintjes (73) het in 1964 sy arm ’n dag voor Kersfees verloor.
Hy het op Sasolburg gewerk en was 21 jaar oud toe die ongeluk gebeur het.
“Ek het ’n suurstoflyn oopgetrek toe daar ’n ontploffing was.
“My arm het net aan ’n aar gehang.
“Ek is regshandig, maar het daardie dag my linkerhand gebruik en my linkerarm verloor,” het mnr. Meintjes vertel.
Hy en sy vrou, me. Han Meintjes, het op in Julie 1964 verloof geraak, slegs ’n paar maande voor die ontploffing.
Hulle het op 20 Maart hul 52ste huweliksherdenking gevier.
Na die ongeluk het hulle vermoed dat mnr. Meintjes dalk blind kon wees weens staal wat in sy gesig, oë en ander dele van sy lyf geskiet het.
Daar is vandag nog stukkies staal in sy oë en plek-plek onder sy vel.
Hy kon vir ’n verdere 40 jaar nog werk ten spyte van die ongeluk.
“As hy daardie dag met sy regterhand gewerk het, sou die yster sy lyf deurboor het,” het me. Meintjes vertel.
“Omdat hy met sy linkerhand gewerk en nie sy regterarm ook verloor het nie, was vir ons ’n bewys dat hy ’n tweede kans gekry het.
“Hulle het nog lank na die ongeluk stukkies van sy horlosie oral opgetel.”
Mnr. Meintjes kan niks van die gebeure onthou nie.
Hy kan net onthou dat daar ’n harde slag was en dat hy in die hospitaal wakker geword het.
“Ek kon nie my oë oopmaak toe ek wakker geword het nie.
“My oë was nog verbind en hulle het gedink dat ek moontlik blind kon wees.
“Daar was vreeslike pyn in my linkerarm en ek het aan my skouer gevoel en besef dat my arm af is,” het hy gesê.
Al het mnr. Meintjes net een arm, moet jy nie vir hom sê daar is iets wat hy nie kan doen nie.
“Hy knoop self sy das, maak sy skoene vas, werk in die tuin en sweis selfs met een hand.
“Nadat ek ’n rugoperasie gehad het, was hy die een wat my bygestaan het,” het me. Meintjes gesê.
Sy vrou glo dat hy werklik ’n “groen hand” het omdat hy suksesvol plantjies kweek en stiggies maak.
Mnr. Meintjes het na die ongeluk ’n besluit gemaak dat hy nie op ’n hoop sal gaan sit en huil nie, maar positief sal bly en dankbaar sal wees vir alles wat hy nog het en kan doen.
Hy het op 50 besluit om te begin draf.
Hy het eers net saam met sy vrou gestap, maar later besluit dat dit lekkerder is om te draf.
Mnr. Meintjes het ’n toekenning gekry vir 300 wedlope wat hy voltooi het en het reeds twee Comrades-marthonne, vyf Kosmos 3-in-1-marathonne en meer as vyf Karoo-marathonne agter die rug.
Hy kort tans slegs 23 wedlope om sy mylpaal van 500 wedlope te bereik.
Hoewel mnr. Meintjes tans nie meer draf nie, neem hy steeds deel en stap die roetes.
“Ek wil vir ander mense sê dat wanneer jy ’n negatiewe houding het, jy in ’n depressie sal verval.
“Later word jy siek van die binnekant af.
“Hoewel ek aan die begin aggressief was, moes ek self daardeur werk en net ek kon my eie toekoms en geluk bepaal.
“Ek kan ook net vir die Here dankie sê vir deursettingsvermoë en dat Hy my ’n tweede kans gegee het.”
Die egpaar het twee seuns en kleinkinders.
Die hele familie is positief en laat nie sommer toe dat iets hulle onderkry nie.




