Skoolgee is vir me. Nellie Mkhaliphi, ’n Zoeloe-onderwyser by Laerskool Secunda op Secunda, ’n plesier.
Juffrou Nellie, soos leeders haar ken, gee al vir 42 jaar skool en haar liefde vir haar professie en die leerders, is aansteeklik.
Me. Mkhaliphi en haar sewe broers en susters het op Ermelo grootgeword.
Haar ma was ’n huisvrou en haar pa ’n onderwyser by ’n plaaslike skool.
In die Mkhaliphi-huishouding was Christenskap en onderrig baie belangrik, iets wat sy glo haar passie vir haar beroep as onderwyser aangewakker het.
“Ek het gesmag om ’n onderwyser te word en wou soos my pa wees.”
Sy het van jongs af ’n pen en papier oral rondgedra en gemaak of sy klasgee en het dit geniet om saam met haar pa skool toe te gaan.
Nadat sy haar studies voltooi het, het sy vir twee jaar op Ermelo skoolgegee, liefde gevind en na Bethal verhuis.
Me. Mkhaliphi het vir jare op Bethal gewoon en hier skoolgegee.
Sy het later die onderhoofpos by Thandanani Primêre Skool beklee.
Me. Mkhaliphi het onlangs na Secunda verhuis en is gelukkig in haar pos as die Zoeloe-onderwyser.
Taal verenig
Sy sien taal as ’n metode om mense te verenig.
“Mense het gemeenskaplike belangstellings en probleme en as ons mekaar verstaan, kan ons die dinge wat ons in gemeen het, bespreek.”
Die Departement van Onderwys het voorheen skole geïdentifiseer om Zoeloe as vak aan te bied en onderwysers het opleiding ontvang, maar daar was nie geld vir die projek nie en dit is gestaak.
Laerskool Secunda het egter die voordele daarvan raakgesien en die skoolbeheerliggaam het me. Mkhaliphi in diens geneem.
Nou gee me. Mkhaliphi in ’n informele en pret manier vir leerders vanaf gr. RR Zoeloe-lesse.
“Die kinders is mal oor haar en hang aan haar lippe,” het me. Marieta Cole, hoof van Laerskool Secunda, gespog.
Sy maak gebruik van musiek en liedjies om die leerders se Zoeloe-woordeskat te verbreed in die hoop dat hulle teen gr. 3 in staat sal wees om ’n gesprek in Zoeloe te kan handhaaf.
Me. Mkhaliphi kan ook Afrikaans, Engels, Ndebele, Sotho, Xhosa en Siswati praat.
“Elke kind is by Laerskool Secunda ’n wenner.
“Dit wat die leerders nou leer, gaan vir altyd saam met hulle wees.”
Wanneer sy nie klas gee nie, lees me. Mkhaliphi graag inspirerende boeke deur Nick Vujicic of bestee tyd in die tuin.
Sy reis ook graag na Afrika-lande saam met haar kerkgroep en geniet dit om nuwe mense op dié toere te ontmoet.



