NewsSchools

Skoolhoof Marietha Cole geniet dit om nuwe uitdagings aan te pak

Marietha Cole weet al van kleins af dat sy wou skoolgee en geniet dit om steeds haar droom uit te leef.

Me. Marietha Cole, hoof van Laerskool Secunda, wou nog altyd ’n onderwyser geword het.

“Ek het in ’n familie van onderwysers grootgeword en het van kleins af gesê ek gaan eendag ’n juffrou wees.

“Ek was ’n enkelkind en het graag vir my poppe skoolgehou.”

Me. Cole het haar vier jaar onderwysdiploma voltooi met drama as een van haar spesialisvakke.

“My man is ook in die onderwys en het ’n pos op Secunda gekry en ons het twee jaar na my studies hierheen verhuis.”

Me. Cole het gelag en vertel dat in die bykans 40 jaar dat sy al as onderwyser werk, daar net twee skole op Secunda is waar sy nog nié skoolgehou het nie.

“Ek het by bykans elke laerskool en hoërskool op die dorp gewerk en het al verskeie posisies beklee en geweldig baie ondervinding opgedoen.”

Me. Cole het na die geboorte van haar drie kinders, gekies om verder te studeer en het haar Verdere Onderwysdiploma (VDO) voltooi met die fokus op voorligting en jeugweerbaarheid.

Sy het Afrikaans en natuurwetenskap gegee en omdat sy lief vir sport is, veral netbal, het sy ’n groot rol in afrigting gespeel.

“Die laaste span wat ek afgerig het, is nou in gr. 11 en dié dogters is almal op Secunda en wanneer ek tyd het, gaan kyk ek graag as hulle speel.

“Netbal sal altyd ’n integrale deel van my lewe wees.”

Me. Cole was ook die eerste netbalskeidsregter in Mpumalanga wat as die nommer een Suid-Afrikaanse skeidsregter aangewys is en was op daardie stadium een van net vier nommer een laerskoolskeidsregters in die hele land.

Behalwe vir harde werk, geniet me. Cole ook nuwe uitdagings.

“Om te stagneer is net nie ’n opsie nie, ek wil altyd besig wees met iets nuut en geniet dit om nuwe planne te maak om die heel beste geleenthede vir my skool se kinders te gee.”

Sy glo Suid-Afrika kan baat by fenomenale onderwysers wat veral ’n passie vir wiskunde en wetenskap het.

“Dié vakke is die sleutel tot die toekoms en onderwysers wat wiskunde en wetenskap vir kinders kan oopsluit, is wat ons nodig het vir die toekoms.

“Die grondslag van leer word egter reeds van baie jonk af gelê en daarom het ons goeie onderwysers nodig om ons kinders te onderrig.”

Lees die volledige berig in the Ridge Times.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Lees ook meer oor Juffrou Nellie wat Laerskool Secunda-leerders Zoeloe leer.

Standerton Advertiser & Highvelder

“Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button