NewsSchools

Errie-sibbes vul mekaar op sportveld aan

Hoërskool Ermelo het vanjaar verskeie sibbe gehad wat die voorreg geniet het om saam hokkie in hulle onderskeie spanne te speel.

Hoërskool Ermelo het vanjaar verskeie sibbe gehad wat die voorreg geniet het om saam hokkie in hulle onderskeie spanne te speel.

Die eerste dogtershokkiespan spog met twee susterspare wie se samespel tot hul voordeel gestrek het.

Die Harmse-susters, Isabel (gr.12) en Janice (gr.11), het reeds in die laerskool saam in dieselfde span gespeel.

Die twee speel ook saam klubhokkie en ken mekaar se styl en spel wat die vertroue in mekaar op die veld opmerklik maak.

“Ek weet dat wanneer ek die bal opstuur, sal Kabouter (Janice) dit vang,” vertel Isabel met ’n glimlag.

Volgens hul ma, Retha, fokus die huishouding se gesprekke merendeels op hokkie, veral ná ’n wedstryd.

Sy weet dié twee se hokkietoekoms saam is nog lank nie verby nie, al is dit Isabel se laaste skooljaar en sy bewonder dié twee wat rolmodelle vir mekaar is.

Vir die tweeling Jana en Carla Prinsloo (gr.12) is dit nie vreemd om saam in dieselfde span te speel nie.

Hoewel hulle van gr. 5 af al in dieselfde span speel, geniet hulle dit steeds en bly dit ’n groot voorreg.

Die twee is fyn op mekaar ingestel en vul mekaar woordeloos op die veld aan.

Jana is die rustiger een van die twee en het ’n kalmte op die veld, terwyl Carla die meer aggresiewe speler is.

“Ons besef nou dat die tyd om dinge saam te doen, soos hokkiespeel, min raak. Volgende jaar studeer ons heel waarskynlik nie eers op dieselfde plek nie.

Dit is juis daarom dat geleenthede soos dié baie kosbaar is. Ons sal dit vir altyd koester,” sê Carla.
Jana vertel dat dit besonder spesiaal is om al vir agt jaar dieselfde passie met haar sussie te kon deel.

Die Van der Merwe-broers, Stéphan (gr.12) en Daniel (gr.10), is albei deel van die eerste seunshokkiespan en het dié jaar vir die eerste keer die voorreg geniet om saam te kan speel.
“Ons verstaan mekaar, veral omdat ons albei agterspelers is. Dit maak die spel soveel lekkerder,” sê Stéphan.
Volgens Daniel is die spanwerk in die algemeen besonder goed, maar omdat hy en sy boetie so na aan mekaar is, is dit baie beter.

Daniel sien sy broer as ’n rolmodel en is dankbaar dat sy boetie die “stres van om in ’n eerste span te speel”, kan verlig.

Die 0/16-seunshokkiespan spog ook met ’n tweeling. Japie Chris en André Dale Groenewald, albei in gr. 9, hoop dat hulle regdeur hul hoërskoolloopbaan die eer kan hê om in dieselfde span te speel.

“Die heel lekkerste is dat ek en my boetie ons vermoëns, talente, mikpunte, swakhede, drome en soveel meer met mekaar kan deel en mekaar kan bemoedig op en van die veld af,” spog André Dale trots.

Dit gebeur selde dat sibbe die eer het om saam in ’n span te speel vir dié skool waarvoor hul harte warm klop. “Wat ’n voorreg,” stem hulle saam.

 

Stephan en Daniel van der Merwe het vanjaar vir die eerste keer die voorreg geniet om saam vir die eerstes te speel.
Die tweeling Japie Chris en Andre Dale Groenewald hoop om regdeur hul hoërskoolloopbaan sy aan sy op die veld te draf.
Vir Carla en Jana Prinsloo is dit ’n groot voorreg om saam as spanlede op die veld te draf. Dié tweeling speel reeds van gr.5 af in dieselfde span.
Janicé en Isabel Harmse speel ook saam klubhokkie en ken mekaar se styl en spel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button