NewsSchools

Blink toekoms wag op Matthias

“My geheim tot sukses was om al in gr. 11 hard te werk en altyd seker te maak dat ek betyds begin leer.

Matthias Johannes van Ligbron Akademie vir Tegnologie het met sewe onderskeidings geslaag en spog met ’n gemiddeld van 91, 9%.

Hy het op 5 Januarie tydens die Mpumalanga prysuitdeling vierde in die top 10 akademiese presteerders van Mpumalanga geëindig.

Hy het in 2006 by Laerskool Wittenburg, ’n klein Duitse laerskool buite Piet Retief, begin skoolgaan en van ’n jong ouderdom ’n groot liefde vir sport gehad.

Matthias het rugby en krieket vir sy skool se spanne gespeel. Met die naderende hoërskool, was hy op soek na ’n skool wat tegniese vakke aanbied en het in 2013 by Ligbron aangesluit.

Op die vraag oor watter prestasies hy tydens sy skoolloopbaan bereik het, het drie hom dadelik bygeval.

Hy het die afgelope vier jaar die kerkorrel gespeel en het genoem dat sy Unisa Graad 6- kerkorreleksamen met lof geslaag is.

Matthias het van gr. 8 tot matriek in sowel A en B, asook in die tweede rugbyspan gespeel en was jaarliks deel van ’n span wat die liga gewen het.

Hy was ook jaarliks in die top 10 van Ligbron en het in gr.10 en gr.11 tydens die Wiskunde Olimpiade derde in Mpumalanga geëindig.

In sy matriekjaar was Matthias koshuishoofseun en het die koshuis beskryf as die beste manier om vriende te maak en te leer hoe om saam met jou medekoshuislede en vriende te staan.

“Ek het veral in die koskuis, meer as by die skool, goeie dissipline geleer.”

Sy humorsin het ook na vore gekom.

“Ek het geleer om te eet wat ek kry.”

Die koshuis het volgens Matthias selfstandigheid bevorder om self sy skooltake te doen sonder enige van die hulpbronne wat hy by sy huis sou hê.

Hy kon ook braai omdat sy koshuiskamer ’n balkon, toegerus met ’n braaier, gehad het.

Matthias het sy onderwysers bedank vir die moeite wat elkeen daagliks gedoen het.

Hy is veral dankbaar teenoor drie onderwysers wat onderskeidelik wiskunde, admaths en wetenskap gegee het, wat altyd die ekstra myl saam met hom geloop het en sy pad makliker gemaak het.

Matthias het vooraf besluit om geen doelwitte vir die matriekeksamen te stel nie, maar om eerder net sy beste in elke eksamen te gee.

“My geheim tot sukses was om al in gr. 11 hard te werk en altyd seker te maak dat ek betyds begin leer.

“Dit is waar goeie beplanning ook ’n groot rol speel.”

Sy wiskundeonderwyser, me. Lenie van Zyl, het hom beskryf as ’n leerder wat ’n onderwyser op sy tone hou.

“Hy het altyd intelligente vrae gevra en nooit iets as vanselfsprekend aangeneem nie” het me. Van Zyl gesê.

Matthias gaan sy koshuistye die meeste mis, maar sien uit na wat die toekoms inhou.

Hy begin vanjaar met Meganiese Ingenieurswesestudies by Tuks, daarna sal hy graag met bome wil gaan boer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button