EVANDER – Afriforum moedig Evander-inwoners aan om by hul buurtwag aan te sluit.
Dié organisasie het Donderdagaand, 12 April ’n vergadering met belangstellendes gehou om die aktiwiteite van die buurtwag en misdaad op dié dorp te bespreek.
Die hoofbesprekingspunt was die vraag of lede tweerigtingradio’s of die Zello-groep as kommunikasiemiddel wil gebruik. Mnr. Jacobus van Zyl, Afriforum se voorsitter oor buurtwagte in die gebied, het verduidelik wat die voor- en nadele van albei dié middels is.
Lees ook: AfriForum se buurtwag help om veldbrand agter Paardekraal te blus
Hy het ook vertel waarom ’n gevestigde buurtwag, veral op Evander, belangrik is.
“Die belangrike gemeenskapspolisiëringsforum is nie meer aktief op die dorp nie en dis asof die sektorpolisie doodgeloop het. Dus kry ons nie die statistiek van misdade wat op ons dorp gepleeg word nie.
“Gewapende rooftogte is weer aan die styg. Die kriminele is nou heeltemal te gemaklik. Daarvan getuig die feit dat hulle onlangs in die dag in die middel van die sentrale sakekern vir Pep Stores beroof het.”
Volgens mnr. Van Zyl is huisbrake tans ’n groot probleem op Evander. Hy skryf dit daaraan toe dat kriminele maklik kan vlug en die polisie ontglip weens die baie grasvelde rondom die dorp.
Daar is tans slegs ’n handjievol vrywilligers wat by die buurtwag betrokke is. Mnr. Ronnie Nelson, Evander se buurwagleier, het inwoners genooi om betrokke te raak.
Vir meer inligring, skakel mnr. Van Zyl by 074 978 4822.



