Ermelo-boer is Mpumalanga se Jongboer van die Jaar
“Soos elke boer wat ’n vrou aan sy sy het weet, is die motivering en ondersteuning van jou vrou goud werd.”
’n Mens kan nie boer as jy nie op jou knieë boer nie.
Só sê mnr. Lion du Plessis wat onlangs as die Agri-SA Mpumalanga Jongboer van die Jaar aangewys is. Hy is deur Mpumalanga Landbou genader om vir die kompetisie in te skryf.
Jongboer van die Jaar is ’n jaarlikse kompetisie wat deur elke provinsiale landbou-unie aanbied word, waarna die wenners van elke provinsie vir die Nasionale Jongboer van die Jaar-titel kwalifiseer.
Tydens die beoordeling van die kompetisie word daar na alle aspekte van die boerdery gekyk. Die beoordelaars evalueer die boere se toekomsvisie, finansiële bestuur en rekordhouding, produksiebestuur, bemarkingsfilosofie en praktyke, personeelpraktyke en betrokkenheid by georganiseerde landbou, waarna hulle ook ’n besoek op die boer se plaas aflê.
“Dit is ’n groot eer om die toekenning te ontvang. Die hele proses was vir my ’n goeie leerskool.”
Mnr. du Plessis skryf sy sukses daaraan toe dat hy ’n baie “hands-on”-benadering tot sy boerdery het en volle verantwoordelikheid vir elke aspek daarvan neem. Hy het ook vertel dat hy elke werknemer belangrik ag en hulle ook so bestuur om ’n positiewe bydrae tot die boerdery te maak.
“Alles is net genade, een bui reën kan jou ’n goeie of slegte oes verseker, dus deur harde werk en vertroue is sukses moontlik.”
Mnr. Du Plessis het op Ermelo grootgeword en sy skoolloopbaan aan Ermelo Hoërskool voltooi. Na skool het hy ’n B.com Regte en Ondernemingsbestuur-graad, asook ’n nagraadse onderwyssertifikaat aan die Noord-Wes Universiteit (NWU) gekry.
Hy het ook ’n nagraadse diploma in finansiële beplanning aan die Universiteit van Vrystaat verwerf en ’n diploma in menseregte deur die Universiteit van Suid-Afrika.
Hy het altyd geweet dat hy ook soos sy pa wil boer en wou eers direk na sy studies begin boer het. Hy het egter besluit om eers ondervinding in die korporatiewe wêreld op te doen.
Lees ook: Ermelo-boere spreek kommer uit oor grondonteiening
Toe die geleentheid opduik om saam met sy pa te begin boer, het mnr. Du Plessis dit met albei hande aangegryp.
“Dit was nog altyd ’n droom van my om elke dag in die natuur te werk.”
Hy het sy pa beskryf as iemand waarna hy opkyk in die landboubedryf en het al baie by hom geleer. Hy het ook sy bure en lede van die Ermelo-Oos Boerevereniging beskryf as mense wat altyd bereid is om te help en raad te gee.
“Ons is ’n klomp jong, dinamiese boere in ons omgewing wat mekaar mentor en inspireer om beter landbouers te wees.”
Mnr. Du Plessis boer al die afgelope ses jaar en bedryf ’n gemenge boerdery wat mielies, droëbone, sojabone, merinoskape en Bradfords insluit.
“Ek glo dat ’n mens moet boer met dit waarvoor jy ’n passie het.”
Sy belangrikste bate in die boerdery beskryf hy as sy grond, daarom is dit vir hom belangrik om omgewingsvriendelike boerderypraktyke te implementeer. Hy het vertel dat sonder gesonde grond dit onmoontlik is om ’n volhoubare boerdery te bedryf.
Hoewel daar baie uitdagings vir boere is soos veediefstal, weerpatrone en onsekerheid in die ekonomie, het mnr. Du Plessis gesê dat elke struikelblok omskep moet word in boublokke om ’n sukses te verseker.
Sy vrou, me. Adéle du Plessis, is sy steunpilaar wat hul huishouding aan die gang hou en hom ondersteun wat hom toelaat om elke dag voluit te boer.
“Soos elke boer wat ’n vrou aan sy sy het weet, is die motivering en ondersteuning van jou vrou goud werd.”
Dit is vir die egpaar ’n groot voorreg om hul twee dogtertjies, Lara en Mia, op die plaas groot te maak en hul liefde vir die natuur te laat uitleef.
Mnr. Du Plessis se gunsteling tyd op die plaas in na vyf saans wanneer al die werkers reeds huis toe is en die werf stil is. Elke dag op die plaas is vir hom anders.
Hy begin sy dag met ’n spanvergadering waartydens die dag se take bespreek en uitgedeel word, en sluit sy werksdag af met beplanning vir die volgende dag.
“Ek geniet my beroep ten volle. Ek staan elke dag positief op met die wete dat ek met ’n dankbare hart my werk kan geniet.”
Behalwe vir boer, speel mnr. Du Plessis graag gholf of hengel en gaan jag.
Mnr. du Plessis het in 2009 ’n liefdadigheidsorganisasie, Children at Play (C@P), gestig en hulle het sedertdien al duisende kinders in ons gemeenskap, ander dele van die land en selfs in ander Afrika-lande gehelp.
Hy wou die wêreld verander, maar hy het agtergekom dat dit nie moontlik is nie, daarom probeer hulle deur C@P die wêreld vir individue verander.



