Local newsNews

Ermeloër sterf op 91-jarige ouderdom

’n Dankbaarheidsdiens vir mnr. Moolman Mentz het Sondagoggend in die N.G. Kerk Moedergemeente plaasgevind.

Mnr. Moolman Mentz is Donderdag, 14 Junie oorlede.

Hy is 91 jaar gelede gebore en het sy skoolloopbaan op Morgenzon begin waarna hy tot in die destydse standerd 6 onderrig by die Rooiwal-plaasskool in die Amsterdam-omgewing ontvang het. Die res van sy hoërskoolloopbaan het hy aan die Ermelo Hoërskool voltooi.

Omdat hy ná matriek op 16-jarige ouderdom te jonk was om universiteit toe te gaan, het hy vir ’n jaar by die koeldrankfabriek op Ermelo gewerk.

Daarna het hy sy regstudies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi.

Mnr. Mentz was ’n kranige rugbyspeler en het vir Garnisoen (die latere weermag) gespeel en het ook vir Noord-Transvaal op die rugbyveld uitgedraf. Hy was in 1945 die senter vir die Suidoos-Transvaalse Subunie en was ook op die bestuur van die Uile.

Ná sy studies is hy aangestel as dosent by die nuutgestigde Militêre Akademie op Saldanha. Dié akademie is toe geskuif na Robertshoogte, later bekend as Voortrekkerhoogte in Pretoria, waar hy klas in militêre reg gegee het. Hy het ook deeltyds gepraktiseer as junior advokaat.

Mnr. Mentz was met Mara getroud en twee seuns en drie dogters is uit die huwelik gebore.

Lees ook: Beatrice Barnard sterf onverwags

Hy het in 1971 uit die balie bedank en het na Ermelo teruggekeer waar die egpaar verskeie ondernemings bestuur het.

Mnr. Mentz het ook in dié tyd op, onder andere, die stadsraad, die publikasieraad, die hospitaalraad, en vele ander rade gedien. Hy is drie jaar later terug na die balie en het vanaf Ermelo gepraktiseer waar hy net diamantsake hanteer het en ook betrokke was by die herskrywing van die diamantwet.

Hy was vir sowat vyf jaar by die Staat teen Skentologie-saak betrokke waartydens hy vir die skentoloë opgetree het.

Sy politieke belangstelling was altyd daar en nadat hy weer eens die toga neergelê het, het hy hom tot die aktiewe politiek begeef. Hy was in 1986 Ermelo se kandidaat vir die Konserwatiewe Party en Lid van die Volksraad vir twee termyne tot 1994.

Hy was tot in 1999 lid van die Mpumalanga-wetgewer waarna hy uit aktiewe politiek getree het. Mnr. Mentz het hom daarna op die familieplaas besig gehou met Gelvich-beeste wat toe ’n nuwe ras in Suid-Afrika was en het later oorgeskakel na die Hugenote-beesras waarmee daar vandag nog op dié plaas geboer word.

Sowat drie jaar gelede het hy en sy eggenote op die dorp kom woon waar hulle tot en met sy afsterwe gewoon het en waar me. Mentz steeds sal woon.

Hy word ook oorleef deur sy vyf kinders, 12 kleinkinders en 11 agterkleinkinders.

’n Dankbaarheidsdiens vir mnr. Mentz het Sondagoggend in die N.G. Kerk Moedergemeente plaasgevind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button