Local newsNews

Bethal-inwoner geniet kuier in Malawi

Malawi is ’n arm, maar skoon en vriendelike land.

BETHAL – Me. Ilse Cronjé het onlangs teruggekeer van ’n besoek aan Malawi waar sy vir haar seun, mnr. Zak Cronjé, gaan kuier het.

Haar toer deur Malawi het by die lughawe op Lilongwe begin waar haar seun haar opgelaai het.

Hulle is vandaar na die meer wat aan die suidekant van Malawi is en het al met die meer langs tot Nkatabay wat by Mzuzu in die noorde van Malawi geleë is, opgegaan.

“Malawi is ’n baie mooi land en is grasgroen,” het me. Cronjé gesê.

“Dit lyk soos ’n paradys langs die meer.”

Sy en haar seun het in die noorde van Malawi vanaf Mzuzu af verder gery en langs die mere by verskeie plekke oorgeslaap.

Me. Cronjé het Malawi as ’n arm, maar skoon land beskryf en gesê al die inwoners se huise is met bakstene gebou en is netjies.

“Daar lê geen papiere en gemors rond soos in Suid-Afrika nie, selfs nie eers in die nedersettings nie en daar is nie eers vullisverwyderingsdienste nie.

“Die mense was baie vriendelik en die kinders wou heeltyd by ons wees,” het sy vertel.

Me. Cronjé het dit oorweeg om sendingwerk in Malawi te doen en op die personeel van ’n jeugkamp wat die Afrika Evangeliese Bond (AEB) aanbied, te dien, maar het daarteen besluit omdat dit eers aan die einde van die maand begin en sy nie so lank van haar huis op Bethal wou weg wees nie.

Die lewensstyl in Malawi is baie primitief en televisies en selfoonopvangs is ’n luuksheid.

Die twee het die eindstryd van die tennis op Wimbledon op ’n skootrekenaar gekyk, maar hulle moes ’n ent van mnr. Cronjé se woonplek af ry tot op ’n berg waar hulle internetopvangs kon kry.

Hulle het op Senga geslaap waar mnr. Cronjé se voertuig gebreek het.

Me. Cronjé was verbaas toe die eienaar van die plek waar hulle geslaap het, ’n vrou, vra of sy kon help om die voertuig reg te maak.

“Sy het allerlei onderdele vir voertuie daar gehad en gesê sy weet hoe om voertuie reg te maak en omdat sy so ver van die beskawing af woon, maak sy sommer self haar voertuie reg as dit breek.”

Me. Cronjé het die plaaslike inwoners se kunstigheid bewonder wat self hul vissersbootjies op die strand uit hout kerf.

Sy het haar ook verwonder aan die inwoners wat op fietse of motorfietse hout of ander items wat tot 3m bo hul koppe op die fiets uitsteek en met toue vasgemaak is, ry.

“Hulle neem al dié items, van groente en vrugte tot hout, mark toe om te gaan verkoop.”

Volgens me. Cronjé is daar oral padblokkades in Malawi waar die verkeersbeamptes dan omkoopgeld vra om toeriste verder te laat ry.

Dié kleurryke prentjie het me. Ilse Cronjé aangegryp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button