AfriForum spring self in en herstel slaggate
Munisipaliteit begroot te min vir slaggate.
BETHAL – AfriForum se Bethal-tak, in samewerking met die Bethal-gemeenskap, het vanjaar reeds meer as R100 000 bestee om slaggate op Bethal reg te maak en 1 800 vierkante meter se pad te herstel.
Volgens mnr. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga-Oos, het Govan Mbeki Munisipaliteit begroot om 1 125 vierkante meter se slaggate te herstel.

“Ons sukses is ’n bewys dat gemeenskappe wel in staat is om dienslewering self te kan bestuur,” het mnr. Bekker gesê.
AfriForum se slaggatprojek is ’n deurlopende projek en mnr. Bekker het gesê dit het reeds ’n groot impak op die dorp gehad.
“Sedert die begin van die jaar het ons reeds meer as 1 700 sakkies teer gebruik en ons wil probeer om 2 000 vierkante meter se slaggate te herstel voor die einde van die jaar.”
Hy het die gemeenskap vir hul ondersteuning bedank.
“Sukses is slegs moontlik as almal saamstaan.”
Om AfriForum te ondersteun of by hulle aan te sluit, SMS die woord Bethal na 45350.
’n SMS kos R1.





