Erica Boersema van die terapeutiese ryskool op Ermelo leef om ’n verskil deur perde te maak
Die waarde van perdry vir fisiese gestremde mense gaan sover terug as 1875. Die uitwerking van perdry het die balans van die ruiter vebeter, sy spiertonus versterk en daar was ’n merkwaardige verbetering in die ruiter se emosionele toestand.
Me. Erica Boersema het in 2009 haar eerste perd, Boetie – ’n Amerikaanse saalperd – gekoop en nie tóé geweet dit was die begin van groter planne nie.
Perdryterapie het in 2010 vir die eerste keer haar aandag getrek toe ’n ma haar outistiese dogtertjie na haar gebring het en gesê het dat sy gehoor het dat perdryterapie vir outisme werk.
Sy het op daardie stadium geen kennis van perdryterapie gehad nie en het begin deur die dogtertjie elke middag te laat perdry.
Me. Boersema het ondersoek oor perdryterapie gedoen en by die South African Therapeutic Horseriding Association (Sathra) uitgekom en die kursus wat bestaan uit drie vlakke begin.

Me. Boersema beskik tans oor ’n vlak een diploma en sal graag wanneer die tyd reg is, vlakke twee en drie ook wil doen.
Hulle doel by die ryskool is om die geleentheid om perd te ry aan enige iemand te bring wat voordeel daaruit kan trek, hetsy dit gesondheidsgewys of ten opsigte van die ruiter se welsyn is.
Volgens me. Boersema sluit die toestande wat by terapeutiese perdry kan baat, leerprobleme in soos ADHA en ADD, neurologiese probleme (beroertes), sindrome soos Down-sindroom, geriatiese toestande wat Alzheimers en Parkinsons insluit.
Dit help ook vir mense met psigiatriese toestande soos eetversteurings, dwelmverslawing en depressie, asook mense met fisiese probleme wat brandwonde, amputasies en kanker insluit.
Me. Boersema het verduidelik dat omdat ’n perd drie-dimensioneel beweeg, verg elke aktiwiteit op die perd motoriese reaksies of gedrag.
Dus is die geïntegreerde ontwikkeling van sensoriese en motoriese vaardighede belangrik vir fisieke en psigiese vordering.
By die ryskool word daar nie net gefokus op die terapeutiese persrylesse nie, maar hulle kan ook spog met ruiters wat aan die Sanesa Western Mounted Games deelneem en ook vir die Mpumalanga-span gekies is.

Een van die hartseerdae was toe klein Jayden Crouwkamp sy stryd teen kanker verloor het.
Me. Boersema het vertel dat hy baie lief was vir hul een perd, Blits, en dat hulle met die perde na die MediClinic Ermelo gery het sodat hy vir Blits deur sy kamervenster kon sien wanneer hy in die hospitaal was.
“Jayden het in ons almal se harte gekruip en dit was ’n baie hartseer dag toe ons van sy dood gehoor het.”
By die ryskool bied hulle ook die geleentheid vir kinders om onderrig te ontvang in skou, dresseer en Western Mounted Games.
Me. Boersema het verder vertel dat hulle dit geniet om goeie terugvoering van ouers te kry en om te sien hoe kinders vorder en verbetering toon.
Die perde wat vir terapie gebruik word, word opgelei om gewoond te raak aan die gooi van balle en boontjiesakke, asook die ander terapietoerusting wat op die perde gebruik word.
Die ryskool beskik oor ’n verskeidenheid perde vir verskillende doeleindes en me. Boersema het gesê al is al die perde wat vir terapie gebruik word nie altyd nie mooiste perde nie, is hulle baie betroubaar.
Die waarde van perdry vir fisiese gestremde mense gaan sover terug as 1875.
Die uitwerking van perdry het die balans van die ruiter verbeter, sy spiertonus versterk en daar was ’n merkwaardige verbetering in die ruiter se emosionele toestand.
Me. Boersema het vertel dat een van die beste voorbeelde van perdry vir gestremde mense me. Liz Hartel is wat in 1952 ’n silwermedalje in dresseer by die Olimpiese Spele in Helsinki ontvang het.
Volgens me. Boersema het sy polio gehad, maar het haar nie laat afsit deur haar gestremdheid nie. Sy het ook nadat sy opgehou het om aan kompetisies deel te neem, geld vir terapeutiese perdry vir poliogestremde mense ingesamel.
Me. Boersema geniet dit om na ’n besige week van werk en huishouding om perd te gaan ry.
“Só maak ons bietjie kop skoon en raak van die spanning ontslae.
“Ons as mens kan baie by perde leer in die sin van hulle bring genesing vir ons seer en stukkende gemoedstoestande. Hulle wil net liefde hê.”
Sy het vertel dat sy nog altyd ’n groot liefde vir perde gehad het en vermoed dat hulle tydens skoolvakansies op haar oom Jan en tannie Lydia Bierman se plaas die liefde ontwikkel het.
“Op die plaas het ek geleer om perd te ry en dit was nog altyd ’n droom om my eie perd te hê.”
Me. Boersema nooi die gemeenskap om ’n draai by die perde te maak om hulle te vryf en het genoem dat die perde baie lief is vir wortels, appels en brood.




