MunicipalNews

Msukaligwa Munisipaliteit herstel riool in George Bothastraat

Volgens mnr. Zwane was daar tydens hul besoek niemand op die bouperseel besig nie en kan hy dus nie bevestig dat die bouer inderdaad rioolwater gebruik om sy materiaal mee te meng nie.

Inwoners van George Bothastraat op Ermelo se honde het onlangs in ’n sloot gevul met rioolwater beland.

Een van die honde moes met ’n tou uit die gemors getrek word, waarna sy eienaar die munisipaliteit gebel en gekla het oor die riool.

Die Hoëvelder het in die uitgawe van 31 Augustus, “Stank is ondraaglik”, oor die rioolprobleem wat inwoners al vir ’n geruime tyd beleef, berig.

Volgens inwoners het werkers van die munisipaliteit kort na die insident met die honde opgedaag en met herstelwerk begin.

“Hulle het werklik moeite gedoen om die luikgat te herstel en die gemors op te ruim.”

Die luikgat is in Januarie deur munisipale werkers beskadig wat ’n sloot gemaak het vir stormwater in die reënseisoen en dit net so gelos het.

Die luikgat is met tyd deur vullis verstop wat deur voetgangers in die veld afgelaai word.

Die inwoner het aan die Hoëvelder gesê dat die werkers moeite gedoen het om die luikgat wat op sy sypaadjie is, te herstel.

Tydens die Hoëvelder se vorige besoek aan George Bothastraat, is daar opgelet dat mense besig was met bouwerk in die veld langs die straat.

“Sover my kennis strek, is dié deel van die veld onder die vloedlyn en mag daar nie gebou word nie,” het een van die inwoners

gesê.

Volgens hulle maak die bouers ook gebruik van die rioolwater wat in die sloot vloei om hul boumateriaal mee te meng omdat daar geen krane in die omgewing is nie.

Daar is navraag by Msukaligwa Munisipaliteit gedoen oor die bouwerk in die veld en volgens mnr. Mandla Zwane, woordvoerder van die munisipaliteit, is die betrokke grond in privaatbesit en is gesoneer in die residensiële twee gebied.

Volgens mnr. Zwane was daar tydens hul besoek aan die perseel niemand op die bouperseel besig nie en kan hy dus nie bevestig dat die bouer inderdaad rioolwater gebruik om sy materiaal mee te meng nie.

“Ons kan nie verder bevestig dat die boumetodes wat deur die bouers gebruik word onveilig is nie,” het mnr. Zwane gesê.

“Die munisipaliteit sal die gebied monitor en ons vertrou dat die bouer of eienaar bouplanne aan die raad sal kan gee voordat die hoofstruktuur gebou word,” het mnr. Zwane gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button