Ouers glo dis ’n wonderwerk dat Michael nie erger beseer is nie
Michael het skedelbreuke, twee gebreekte skouerbene en ’n gebreekte linkerbeen opgedoen
KINROSS – “Ek het jou geroep en geroep, maar jy het nie gekom nie,” is klein Michael Nortjé se woorde wat nou nog by sy ma, me. Monica Nortjé spook.
Dié vyfjarige woelwater is Donderdag, 18 October deur ’n vragmotor raakgery en moes volgens me. Nortjé vir ’n lang ruk verlate gevoel het terwyl hy om hulp geroep het.
Hy was egter te ver van die huis af en niemand het sy hulpkrete gehoor nie.
“My ma was in die huis saam met die ouer kinders, ek was winkel toe en my man was in sy werkswinkel,” het me. Nortjé vertel.
Die gesin woon op ’n plaaswerf langs die Kinross-silos vanwaar mnr. Walter Nortjé (Michael se pa) die AA Locksmith-werkswinkel bedryf.
Michael, die middelste van vyf kinders, het die middag ongesiens uit die huis geglip en op ’n 8 ton-vragmotor wat op die plaaswerf was, gaan speel. ’n Motorwerktuigkundige, genaamd Theo, het aan die voertuig gewerk, en het glad nie die kleuter raakgesien nie.
Hy het later die vragmotor aangeskakel en dorp toe gery, min wetende dat Michael afgeval en onder die wiel van die vragmotor beland het.
“Ek prys die Here dat Hy op daardie oomblik my seuntjie vasgehou het, want dit kon soveel erger gewees het,” het me. Nortjé gesê.
Michael het skedelbreuke, twee gebreekte skouerbene en ’n gebreekte linkerbeen opgedoen.
“Daar is wonderbaarlik geen inwendige beserings nie. Ons weet nog nie presies wat gebeur het nie,” het me. Nortjé vertel.
“Voor ek dorp toe gery het, het ek beloof om vir Michael ’n lekkertjie saam te bring. Ek het gesien hoe hy by die huis ingehardloop het.
“Ek het later vir Theo in die winkel raakgeloop.
“Toe ek tuiskom, het Michael nie soos oudergewoonte uitgehardloop gekom nie en ons het na hom begin soek.
“Sy ouer boeties, Alex en Johan, het op hom afgekom en geskok kom vertel dat Michael bloei.”
Me. Nortjé het haar kleinding versigtig opgetel en met hom na die Evander Hospitaal gejaag.
“Hy was baie ongelukkig omdat ek nie gekom het toe hy na my geroep het nie.”
Volgens me. Nortjé het die verpleegpersoneel by die hospital vinnig en flink gehelp en is hy later per ambulans na die Sunshine Clinic in Benoni oorgeplaas.
Michael se been is Saterdag geopereer en penne is ingesit.
“Die dokters het gesê dat buiten vir die bietjie bloed wat by Michael se oor uitgekom het, het hy geen bloeding op die brein nie. Sy skedel is wel gekraak en sy sleutelbene gebreek, maar dit sal vanself moet aangroei en ’n operasie is nie nodig nie.”
Michael het teen Maandag reeds met fisioterapie begin en hy word aangemoedig om op te staan en rond te beweeg.
“Die dokter het gesê hy sal tussen ses en agt weke in die hospitaal moet bly, maar Michael vorder fluks. Hy is so ’n sterk en dapper seuntjie. Ons het eintlik ’n kompetisie aan oor wie eerste gaan huil en ek het reeds ’n hele paar keer verloor.”
Me. Nortjé en haar ma, me. Susan van der Merwe, is Donderdagaand saam na Sunshine Clinic waar hulle by Michael waak. Die vroue het in die haas geen klere ingepak nie en teen Saterdagoggend was hulle taamlik desperaat om veral vir Michael kleertjies te kry.
Sy klere moes afgesny word toe hy by die hospitaal opgedaag het en die Nortjés het nie die geldelike vermoë om heen en weer te pendel nie.
Verskeie mense het die gesin te hulp gesnel ná hulle die berig op ons webtuiste gelees het.
“Die ondersteuning is fantasties. Ons het soveel om voor dankbaar te wees. Ons wil eerstens die Here bedank vir sy wonderwerke en dan vir Estie Smit van Oase van Liefde – en vir tannie Pippa.”
Johan (9) en Alex (8), die oudste twee van die Nortjé-kroos is tans by hul ander grootouers in Springs en die jonger twee, Sulanica (2) en Morné (vyf maande) gaan by vriende tuis.
Mnr. Nortjé moes terug werk toe om die pot aan die kook te hou.



