HOëVELD – Die huidige mielieverbouing is steeds onder groot finansiële druk.
Volgens mnr. Willie Oosthuizen, verkoopsagent vir Omnia Kunsmis, was die finale mielieoes vir die 2016/2017 jaar 16.82 miljoen ton en weens die groot oes, was daar ’n groot oordrag mielievoorraad waarmee boere die 2017/2018 jaar moes begin.
“Dit het tot gevolg gehad dat die mielieprys reeds onder groot druk was,” het mnr. Oosthuizen gesê.
“Afgesien van dit, is die wêreldgraanvoorraadvlakke die hoogste ooit, wat verdere druk op die mieliepryse plaas.”
In Mpumalanga is daar vir die 2016/2017 jaar 490 000 hektaar mielies geplant en in die 2017/2018 jaar 480 000.
Die mielieopbrengs vir 2016/2017 was 3 451 000 en vir 2017/2018 was dit 2 880 000.
Die soja wat geplant is in Mpumalanga, was 241 000 hektaar vir 2016/2017 en 310 000 vir 2017/2018 terwyl die opbrengs vir soja onderskeidelik 554 300 en 604 500 was.
Die totale reënval op Bethal was 691mm vir die 2016/2017 jaar en 785mm vir die 2017/2018 jaar.
“Ons het vanjaar in Januarie en Februarie die tradisionele midsomerdroogte beleef wat kritiek is vir bestuiwing van die mielies.
“Die gevolg was dat ons opbrengste duidelik laer is as die vorige seisoen, ten spyte van ’n hoër reënval.”
Die gemiddelde totale insetkoste vir mielies in Mpumalanga is sowat R13 350 per hektaar vir ’n 5.5t/ha mielieopbrengs-mikpunt.



