Nelstehuis het Saterdag, 20 Oktober ‘n Ma- en dogtertee in die EHS se Ouditorium aangebied.
Ten spyte van die ysige weer, was die meer as 200 vroue wat die pragfunksie bygewoon het, se harte warm en gesigte stralend.
Me. Amoré Bekker van RSG het as gasspreker tydens die funksie opgetree. Haar tema was “Griekse tragedie” en al die vroue, dogters en volwassenes, het aanklank gevind by haar prettige, diep en inspirerende toespraak.
Die tema van die tee was: “Water is lewe” en heelwat water is ingesamel as deel van een van me. Bekker se projekte.
Die water word versprei waar daar behoefte is. Na die toespraak het die vroue by keurig gedekte tafels aangesit en tussen gepeusel aan heerlike eetgoed en kwaliteit-tyd met mekaar spandeer.




