Huis se muur val in bure se erf in op Secunda
“Ons het eintlik die val van muur sien kom, want die muur het so skeuf gestaan dit was al as ’n gevaar aangemeld.”
SECUNDA – Hulle het gedink die wegraping is aan die gebeur, toe hulle gevoel het hoe die grond bewe en hoor hoe die houe teen die traliedeur geval het.
“Schalk het by die gordyn uitgekyk en net gesê: O D……!” het me. Laurinda Booyse vertel ná ‘n muur vroeg Saterdagoggend, 27 Oktober, uit hul bure se huisraam tot binne die Booyse-erf geval het.
Die egpaar het groot geskrik en het hul buurvrou, me. Ria Strauss verskeie kere probeer skakel, maar daar was geen antwoord nie.
“Ons het later op ‘n zello-kanaal om hulp geroep. Die nooddienste se kapelaan het opgedaag en vir Ria gaan roep,” het me. Booyse gesê.
Me. Strauss was skoon verbaas toe iemand aan haar venster geklop het.
“Ek het eers nie verstaan hoe iemand in die erf gekom het nie. Ek het boonop kwaai honde.”
Volgens me. Strauss is die muur ‘n keermuur wat deel is van ‘n buitekamer waarin sy goed gestoor het.

Me. Strauss woon al vir langer as 30 jaar in die huis in Lanzeracstraat en sy het al die muur wat skeeftrek, by haar versekering aangemeld.
“Hulle het ondersoek gedoen en gesê dis weens grondverskuiwings wat deur ondergrondse bedrywighede veroorsaak word.
“Die versekering wou nie daarvoor betaal nie,” het me. Booyse vertel.
Dit blyk niemand het gedink die groot boom voor die muur sou ook platgetrek word as die muur omhel nie.
Me. Booyse het gesê hulle het gedink die dag as die muur omval, sal die boom die val breek.
“Ons het eintlik die val van die muur sien kom, want die muur het so skeef gestaan en dit was al as ‘n gevaar aangemeld.
“Gelukkig was dit net die takke teen die traliedeur wat ons Saterdagoggend gehoor het.”
Die Booyse-egpaar is net dankbaar die muur het in nag omgeval en nie gedurende die dag nie.
“My seuntjie JJ en sy worshond, Chloe speel gereeld daar naby. Hulle sou nie lewendig daaronder kon uitkom nie,” het me. Booyse gesê.




