AfriForum vergader met inwoners oor munisipale dienste
Organisasie en inwoners wil self slaggate regmaak
TRICHARDT – Inwoners en lede van die organisasie, AfriForum, het Woensdagaand, 24 Oktober probleme in die omgewing bespreek.
AfriForum het inwoners via sosiale media van die vergadering in kennis gestel en dus het min inwoners die vergadering, wat by Mynland op Trichardt plaasgevind het, bygewoon.
Me. Deidre du Preez van AfriForum se hoofkantoor het die vergadering gelei en gesê dit is belangrik dat inwoners ook die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP) vergaderings bywoon sodat hulle insette kan lewer.
“Dié vergaderings is soortgelyk aan die munisipaliteit se besigheidsplan en dit is waar besluit word watter diens gelewer moet word en hoeveel geld jy vir daardie diens benodig,” het me. du Preez gesê.
“Die gemeenskap moet deelneem aan dié vergaderings en beplanningsprosesse van die munisipaliteit.”
Inwoners het oor die instandhouding en toestand van begraafplase in verskeie dorpe in die omgewing, wat Secunda, Trichardt, Evander en eMbalenhle insluit, gekla en gesê dit is gevaarlik om die begraafplase te besoek omdat boemelaars daar slaap en in die begraafplaas op eMbalenhle word misdade gepleeg omdat die gras so lank is.
Mnr. Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se tak op Secunda, het gesê hulle het al verskeie skoonmaakaksies geloods by die begraafplaas en dat die toiletgeriewe heeltemal onbegaanbaar is.
Munisipale paaie was ook op die lys vir bespreking en die gemeenskap beplan om hande te neem met AfriForum en self die paaie reg te maak.
Hulle het ook oor munisipale parke en ontspanningsoorde gepraat en mnr. du Plessis het gesê op Secunda is inwoners bevoorreg omdat Sasol ingegryp het en parke op Secunda opgeknap het en tans in stand hou.
Inwoners het gekla oor die parke en ontspanningsgeriewe op Evander waar mense alkohol gebruik en rommel strooi.
Hulle wil hê die munisipalteit moet dié parke en die dam naby die brandweerstasie op Evander, omhein.
“Secunda Stadion kort ook aandag,” het een van die inwoners gesê.
“Die Sasol Ontspanningsklub lyk mooi, maar by die stadion kan ‘n mens sien daar kort aandag en instandhouding.”
“Die Lillian Ngoyi Sentrum gaan ook agteruit,” het mnr. du Plessis gesê.
Volgens inwoners is ligte by Trichardt- en Secunda se munisipale kantore buite werking.
Onwettige storting van rommel is nog ‘n groot probleem en inwoners het verskeie gebiede op Bethal, Secunda, Evander, Kinross en eMbalenhle genoem waar rommel voortdurend gestort word.
Die afwesigheid van die verkeersafdeling is nog ‘n bekommernis vir inwoners en die instandhouding van die brandweerstasies.
‘n Tekort aan toerusting is ‘n probleem by meeste van die brandweerstasies in die omgewing.
Me. du Preez het gesê AfriForum sal die lys deurgee aan Govan Mbeki Munisipaliteit.



