Amelia Loggenberg se tesis word verwerk in boekvorm
Vrou is opgewonde oor haar eerste boek
SECUNDA – Me. Amelia Loggenberg se heel eerste boek, God (YHVH Elohim)’s Fellowship Invitation, het onlangs die lig gesien.
Dié boek het gekom nadat sy haar tesis vir haar meestersgraad in teologie voltooi het en besluit het om haar tesis te verkort en in boekvorm uit te gee.
Sy is ‘n student by die Roepersfontein-gemeente op Kriel en beoog om volgende jaar met haar doktorsgraad te begin.
Me. Loggenberg se wens is dat haar boek mense sal help en aanspoor om ‘n verhouding met hul Skepper te hê.
Haar boek gaan oor die pad wat Jesus Christus gestap het en waar Hy al in die Ou Testament sigbaar is.
“Ek skryf oor Jesus se lewe terwyl Hy op aarde was en Sy pad met Sy dissipels, Sy bediening, die aand in Getsemane en ek skryf ook oor die nuwe Jerusalem,” het me. Loggenberg gesê.
“Die boek gaan oor Jesus se hofmakery met jou en watse intieme verhouding Hy met elke persoon wil hê.”
Sy het baie seer in haar lewe gehad toe haar ma, me. Maria Quensnell in 2001 in ‘n ongeluk dood is. Sy het haar pa aan die dood afgestaan toe sy net agt jaar oud was.
Haar pa, mnr. Martinus Hattingh, is op die ouderdom van 33 aan ‘n hartaanval dood.
“My pa was ‘n diaken in die kerk en hy was baie lief vir die Here,” het me. Loggenberg gesê.
“Ek was baie lief vir my pa en ons was na aan mekaar. Ek was kwaad toe hy dood is en het baie vrae vir die Here gehad.”
Me. Loggenberg se tweelingboetie en -sussie was net vier jaar oud toe hul pa dood is.
Sy het deur nog moeilike tye gegaan toe haar sussie (een van die tweeling), me. Linda van der Walt, in 2002 aan kanker dood is.
Sy het egter in haar lewensreis besef dat die Here ‘n mens se hand nooit los nie, al lyk dit soms so en in 2009 het sy ‘n openbaring van die Here ontvang waarin Hy vir haar gesê het Hy gaan haar op ‘n reis neem en haar vernuwe.
“En Hy het my op ‘n nuwe reis geneem sedert ek daardie openbaring gehad het.
“Hy het my geïnspireer om die dieper dinge in die Woord te soek.”
Me. Loggenberg het by die Kruik Kerk se jeugspan betrokke geraak en gehelp met die jeug en sy het in 2014 begin om teologie te studeer.
Een van haar twee volwasse seuns studeer ook nou vir ‘n graad in teologie.
Sy het ook by die Christelike Eksderde-kampe betrokke geraak en by die kinderkampe gehelp.
“Op dié kampe het die Here my gewys, dit is nie net ek wat seer gehad het nie, baie ander mense en kinders het ook baie seer.

“Ek kon vir hulle sê dit is ‘okay’ om seer te hê en om kwaad te wees, want die Here los jou nooit nie.
“Sodra jy reg is om jou hart met Hom te deel, is Hy daar om jou te help om die stukkies van jou hart weer op te tel.”
Me. Loggenberg geniet dit om veral met die jeug te werk en glo sy het ‘n gawe om na mense te luister en hulle te help om positief te wees.
Sy het na skool vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens gewerk as grondwaardin omdat sy te kort was om ‘n lugwaardin te wees.
Sy het later SAL vir Air Malawi verruil en die geleentheid gekry om baie te reis terwyl sy vir die twee lugdienste gewerk het.
Sy was al in Malawi, Engeland, Frankryk en Griekeland onder andere en sy het gesê Griekeland was vir haar die hoogtepunt.
“Ons het Kreta besoek wat een van my gunstelingplekke is omdat daar baie geskiedenis van Jesus is en ons het ‘n grot besoek wat buite soos ‘n skip en binne soos ‘n tempel lyk.
“Baie Christene het in dié grot weggekruip vir hul vervolgers.”
Me. Loggenberg het Taekwondo gedoen en het gevorder tot ‘n derde Dan voordat sy moes ophou.
Sy het ook Taekwondo afgerig by die Victory Taekwondo Familie-sentrum.
‘n Motorhuis se deur het in 2012 ontspoor en bo-op haar geval. Sy het haar nek, rug en skouer beseer het en kon nie meer voortgaan met Taekwondo nie.
Sy moes vir ses maande rehabilitasie ondergaan.
“My twee seuns het op hoërskool met Taekwondo begin en ek het toe besluit om ook te begin, want dit was iets wat ons saam kon doen.”
Sy is getroud met mnr. Cecil Loggenberg en sy het hom bedank omdat hy haar bystaan en haar ondersteun het toe sy haar boek en tesis geskryf het.
“Ek glo as jy geduldig is en glo as jy God gevra het vir ‘n lewensmaat, jy ook moet vertrou dat Hy sal voorsien.”




