Bethal VLU-tak is al 80 jaar oud
Voorsitter nooi belangstellendes om by VLU aan te sluit
BETHAL – Lede van die Bethal VLU-tak het Dinsdag, 16 Oktober dié tak se 80ste bestaansjaar gevier.
Dié tak is in Oktober in 1928 gestig met 12 lede en me. E. Deans was die voorsitter.
Sy was in daardie jare ook ‘n hoofbestuurslid en teen 1938 het die Bethal-tak met 120 lede gespog.
Me. Pattie Joubert was die tak se voorsitter vanaf 1938 tot 1953 en daarna was me. Ansie Maritz die voorsitter, toe me. Ysabel Snyman en daarna me. Engela Scheepers wat vir 28 jaar die voorsitter was.
Me. Ilse Cronje, lid van dié tak, het gesê die tak was altyd bedrywig en het die gemeenskap van Bethal op verskeie gebiede bedien met spyseniering, troues en ander funksies.
“Bethal was nog altyd landswyd bekend vir die nasionale Aartappelfees wat vir langer as 20 jaar op Bethal aangebied is,” het me. Cronjé gesê.
Die Bethal VLU-tak was vir 17 jaar verantwoordelik vir die hooffunksie van die fees, naamlik die kroningsaand waar die Bethaller van die Jaar aangewys is asook die Mej. Aartappelfees.
“Die VLU-vroue het dan met hul beste resepte ‘n viergang-maaltyd vir ongeveer 350 gaste gemaak,” het een van die lede gesê.
“Dit was harde werk, maar daar was altyd goeie gees onder die lede en hulle het dit baie geniet, veral as die komplimente ingestroom het.
Die Bethal VLU-tak het onlangs tweede geëindig onder die Mpumalanga VLU-takke.
Me. Ester Booyens is tans die voorsitter van die Bethal VLU-tak en belangstellendes is welkom om hul volgende vergadering by te woon.
Skakel me. Booyens by 083 362 0025.




