Jan du Plessis is nuwe voorsitter van AfriForum
Organisasie help met paaie en veiligheidsbeheer by misdaadtonele
SECUNDA – Mnr. Jan du Plessis het ses maande terug die leisels as voorsitter van die AfriForum Teks-tak oorgeneem.
Hy spring gereeld saam met sy taklede in en help om paaie en stoptekens reg te maak.
Vliegtuie is mnr. du Plessis se groot liefde en hy het na skool by die lugmag aangesluit waar hy as vliegtuig werktuigkundige gekwalifiseer het.
Hy het eers by die lugmag in Port Elizabeth gewerk en later op Hoedspruit waar hy versienings op die Mirage-vliegtuie gedoen het.
Mnr. du Plessis het later na Secunda verhuis en by Sasol begin werk as ‘n passer.
Hy het na agt jaar by Sasol bedank en sy eie paneelkloppery begin, maar dié onderneming het ‘n jaar later weer toegemaak.
Mnr. du Plessis het toe kontrakwerk oral in Suid-Afrika en ander lande gedoen.
Hy het al in Botswana, Namibië, Swaziland, Angola en Saoedi Arabië gewerk en gesê hy het dit geniet om vir ‘n jaar in Saoedi Arabië te bly.
“Die kultuur was baie anders, maar dit was interessant,” het mnr. du Plessis gesê.
Hy het in 2009 weer by Sasol begin werk as voorman, maar hy werk tans by die dokumentbeheer afdeling omdat hy probleme met sy ore begin optel het en nie meer in die afdeling kon werk waar dit baie raas nie.
“Ek kan nie stilsit nie en dit is een van die redes hoekom ek by AfriForum en Solidariteit betrokke begin raak het.”
Mnr. du Plessis het Donderdag, 25 Oktober toe Solidariteit-lede wat by Sasol werk, in Sandton, Johannesburg aan ‘n optog deelgeneem het, ook saamgery en deelgeneem.
Hy is ook betrokke by AfriForum Buurtwag wat gereeld by ongeluks- en misdaadtonele help om verkeer te beheer en die toneel te beveilig.
In sy vrye tyd doen hy graag houtwerk en staalwerk of hy woon lugskoue wat oor die land gehou word, by.
“Vliegtuie is steeds my belangstelling en ek gaan help graag by lugskoue en raak betrokke.”
Hy speel ook soms gholf en geniet die buiteluglewe en kampering.
Mnr. Du Plessis is ‘n ywerige skenker by die bloeddiens en het al 190 eenhede bloed geskenk.




