CrimeNews

‘Dr. Daan Botha’ lok weldoeners met gratis vleis

Vroue waarsku teen man wat vleis wil weggee en lugtyd soek

HOëVELD – Verskeie inwoners is deur ‘n man wat homself as dr. Daan Botha voorstel, ingedoen.

Volgens een van die slagoffers het dr. Botha haar geskakel en gesê hy het haar telefoonnommer in die koerant gekry en hy sien sy doen liefdadigheidswerk.

“Hy het gesê hy het sowat R300 000 se vleis wat besig is om ‘af te gaan’ omdat die krag op sy plaas af is en sy yskas nie meer werk nie,” het die vrou vertel.

“Hy het toe gevra of ek sou belangstel in die vleis en of ek weet van ouetehuise of behoeftige mense aan wie hy dit sal kan skenk.”

Die vrou het belanggestel en dr. Botha het aan haar verduidelik hoe om op sy plaas, wat glo naby Trichardt geleë is, uit te kom.

“Hy het weer geskakel en gevra dat ons lugtyd koop vir sy werkers want hy is ver uit die dorp uit op ‘n plaas.

“Hy het gevra dat ek die koopbewysnommers van die lugtyd vir hom SMS want hy moes dit vir sy werkers gee.

“Ek moes R2 000 se lugtyd vir hom koop, want hy het gesê hy het agt werkers en elkeen kry R275 se lugtyd vir die maand.”

Die vrou het die lugtyd gekoop en vir dr. Botha die nommers gestuur net om agter te kom die plaas waarvan hy gepraat het, bestaan nie.

Sy het ‘n saak by Trichardt Polisie geopen.

Nog ‘n vrou wat by welsynwerk betrokke is, is einde Oktober ook deur ‘n ene dr. Daan Botha ingedoen met dieselfde modus operandi.

“Die man het ook geskakel en gesê hy is dr. Daan Botha en hy het vleis beskikbaar wat hy graag wil skenk aan minderbevoorregtes,” het die vrou vertel.

Dr. Botha het die vrou so ewe gevra om ook vir hom die Sondagkoerant vanuit die dorp saam te bring, asook lugtyd.

“Hy het gesê sy plaas is op Vlaklaagte naby Kriel en ek moes meer as R2 000 se lugtyd koop vir hom, maar ek het net R600 gehad en het dit gebruik om lugtyd te koop,” het die vrou gesê.

Sy het ook tot haar ontnugtering agtergekom die plaas bestaan nie en toe sy dr. Botha daarna geskakel het, het hy sy selfoon geantwoord en gesê hy het die hele oggend vir haar gewag en sy het nie opgedaag nie.

Later toe sy hom weer skakel, het hy gesê hy is besig en kon nie praat nie.

Die inwoners het dié saak by die polisie aangemeld, maar konst. Velencia Koma van Trichardt Polisie en kapt Bettina Zondo van Secunda Polisie sê hulle weet nie van sulke sake nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button