SECUNDA – Die motoris wat ‘n skoolkind van sy fiets gestamp en oor die fiets gery het verlede Dinsdag, 20 November, moet liefs homself by die polisie aangee.
So maan kapt. Bettina Zondo, polisiewoordvoer van Secunda Polisie.
Die motoris het ná die ongeluk weggejaag en is nog op vrye voet.
“Hy haal homself baie meer probleme op die hals as hy wag totdat ons hom in hegtenis neem,” het kapt. Zondo gesê.
James van Heerden (15), ‘n graad 9-leerder van Hoërskool Oosterland, en ‘n maat Nicus Delport, het die oggend omstreeks 7.15vm met hul fietse verby Laerskool Kruinpark gery.
Hulle was oppad skool toe om eksamen in lewensoriëntering te skryf.
“Nicus het voor gery. Toe ek by die sirkel op die hoek van Sheba- en Vaalrivierstraat links in Vaalrivierstraat gedraai het, het ‘n man in ‘n rooi GWM-bakkie oor die sirkel gejaag en die bakkie se agterkant het my van my fiets afgestamp. Die linkeragterwiel is bo-oor my fiets,” het James vertel.
Volgens Nicus het die bakkie ook op hom afgepyl en moes hy uitswaai om nie ook raakgery te word nie.
“Die man het nie eens stilgehou om te kyk of iemand beseer is nie.”
Volgens James het daar ook op daardie stadium laerskoolkinders by die sirkel gestaan.
“Wat as die motoris een van die kleintjies raakgery het?”
James se regterenkel is met die val beseer, maar hy is dankbaar dat dit nie so erg is soos verlede jaar toe ‘n vragmotor hom in Uitbreiding 22 raakgery het nie.
“Ek het toe vir sowat ‘n maand in die hospitaal aangesterk. Die vel aan my regterbobeen, boud en sy was heeltemal afgeskuur en ek moes ook ‘n operasie aan my regterhand ondergaan. Ek wou vir lank daarna nie weer op ‘n fiets klim nie,” het James gesê.
‘n Vrou wat die ongeluk gesien het, het gestop, die seun opgehelp en ook sy fiets in haar voertuig gelaai.
“Ek kan nie glo dat die ander motoriste vir die tannie toeter geblaas het omdat sy die verkeer opgehou het nie,” het James vertel.
Mev. Antoinette van Heerden, James se ma, het gesê ‘n vriendin het uiteindelik vir die ongeduldige motoriste probeer paai.
James se Samaritaan het hom huistoe geneem waar sy ma sy voet vasgedraai het en toe met hom skool toe is sodat hy nog betyds eksamen kon skryf.
“Ek is woendend,” het me. Van Heerden gesê.
“Ek kan nie glo dat die motoris net wegjaag nie. Dit is tog voor ‘n laerskool en mense wil steeds soos padvarke ry!”
Die dokter het James vir X-strale gestuur.
“Gelukkig is niks gebreek nie, want ons mediese fonds is uitgeput na James verlede jaar in die hospitaal was en my man ook by die dood omgedraai en verskeie operasies ondergaan het sedert hy in Januarie 2017 in ‘n motorongeluk was.”
Laerskool Kruinpark het ná die voorval motoriste in Secunda versoek om versigtig te bestuur in die omgewing van alle skole.
Enige iemand met inligting oor die tref-en-trap-ongeluk en waar die motoris wat weggejaag het opgespoor kan word, kan die polisie skakel by 017 624 221/2/3.




