SECUNDA – ‘n Motoris wat vermoed dat hy moontlik ‘n hoërskoolseun van sy fiets afgestamp het op 20 November, het homself Donderdag 29 November by die Secunda polisiestasie aangemeld.
Hy bestuur ‘n rooi GWM-bakkie en het aan die polisie gesê hy vermoed dat hy dalk vir James van Heerden (15) by die sirkel by Laerskool Kruinpark kon raakgery het.
Die man se verklaring is reeds afgeneem.
Ridge Times het verlede week oor James se nare ervaring berig. Hoewel hy nie ernstig beseer is nie, is die fiets waarop hy gery het, erg beskadig.
Die hele agterwiel is skoon skeef gebuig.
James en ‘n maat het die oggend verby Laerskool Kruinpark gery oppad na Hoërskool Oosterland om eksamen te skryf, toe ‘n rooi GWM-bakkie hom by die sirkel getref en van sy fiets afgestamp het.
Die bakkie se linker agterwiel het bo-oor die fiets gery. Die motoris het egter versuim om stil te hou en het weggery.
James se ma, me. Antoinette van Heerden het die saak by die polisie aangemeld.
“James se enkel het seergekry, maar ek is baie bekommerd oor hoe ons die geleende fiets sal kan vervang,” het sy gesê.
Volgens kapt. Bettina Zondo, woordvoerder van Secunda Polisie, word daar nog op ‘n paar uitstaande verslae gewag.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/129003/secunda-polisie-soek-bakkie-bestuurder-wat-kind-raakry-en-toe-weg-jaag/



