
BETHAL – Diewe het so suutjies Sondagoggend, 9 Desember by ‘n huis in Chris Hanistraat ingebreek en die eienaars van die huis asook drie honde, was salig onbewus van hul teenwoordigheid.
Mnr. Wayne van der Walt (fotograaf en redakteur van die Standerton Advertiser) en sy vrou het die naweek by sy skoonouers op Bethal gekuier nadat mnr. Van der Walt Saterdag foto’s by ‘n troue op Ermelo geneem het.
Hy het Saterdagaand omstreeks 6nm op Bethal aangekom en met sy skoonpa gesit en kuier terwyl hy van die foto’s vanaf sy kamera na sy selfoon oorgeplaas het om vir die bruidspaar aan te stuur.
Hulle het later gaan slaap, maar mnr. Van der Walt het omstreeks 2.50vm wakker geword toe sy vrou hul drie-maande-oue baba melk gegee het en hy het opgestaan om water te drink.
Sy skoonpa het ook wakker geword omdat hy met sy bors sukkel en sy skoonma het opgestaan om vir haar man koffie aan te bied.
Sy het deur die venster iets op die grasperk opgemerk en haar man ingelig. Hy nie veel daarvan gemaak nie en gesê dat dit sekerlik die honde was wat weer lappe rondgedra het.
Almal het weer gaan slaap. Toe mnr. Van der Walt omstreeks 7vm opgestaan en sy selfoon gesoek wat in die sitkamer was waar hy dit die vorige aand gelos het om te herlaai, het hulle onraad vermoed.
Sy vrou het haar handsak gesoek en die gesin het toe agtergekom hulle besittings is gesteel.
Dit wat voorheen soos lappe voorgekom het, was die inhoud van haar handsak op die grasperk.
“Die diefwering was oopgebuig en hulle het deur die venster ingekom, maar die venster was nie gebreek nie,” het mnr. Van der Walt vertel.
Die booswigte het ook by ‘n viskamer op die perseel ingebreek en ‘n mes, wat later op die toneel gevind is byderhand gehou.
Dit is mnr. Van der Walt se mening dat hul gereed wou wees sou daar weerstand gebied word.
“Ons is net dankbaar dat ons ongedeerd is, aardse besittings kan vervang word, maar ‘n mens kan nie waarde op ‘n lewe plaas nie.”
Mnr. Van der Walt se kamera-toerusting en lense, sy selfoon, kontant uit sy vrou se handsak, sy skoonpa se twee skootrekenaars en allerlei ander items is gesteel.
Die geskatte waarde van die gesteelde items beloop R108 000.
Mnr. Van der Walt het meeste van die foto’s van die troue wat hy die vorige dag geneem het, verloor en het toe met die bruidspaar gereël om hulle weer die Sondag af te neem.
Sy vrou het ook foto’s geneem met haar kamera wat in sy bakkie was en dié foto’s kan hulle nog vir die bruidspaar gee.
Die saak is by Bethal Polisie aangemeld en hoewel hulle lank geneem het om op te daag, het mnr. Van der Walt hulle diens as professioneel beskryf toe hulle uiteindelik by die huis opgedaag het.
Volgens mnr. Jaap Pretorius, voorsitter van Bethal-gemeenskapspolisiëringsforum, het hulle al van verskeie gevalle gehoor waar diewe sim-kaarte gebruik om die vensters mee oop te maak sonder om dit te breek.



