NewsSchools

Betsie Jordaan neem leisels oor by Privaatskool Hoëveldrif

Hoof geniet tuinmaak en lees in vrye tyd

BETHAL – Me. Betsie Jordaan het sedert November die skoene as die nuwe hoof van die Privaatskool Hoëveldrif, begin volstaan.

Sy het by Hoërskool Ermelo gematrikuleer en na skool haar B.Sc-graad verwerf. Daarna het me Jordaan haar graad in onderwys by die destydse Universtiteit van Potchefstroom vir Christelike Hoër Onderwys voltooi.

Sy het na haar studies begin skoolgee by Afrikaanse Hoërskool in Germiston en later by Wendywood High School in Sandton, totdat sy met haar groot liefde getrou het en die klaskamer vir die rol van predikantsvrou verruil het.

Sy wou ook voltyds tuis wees by die egpaar se drie seuns en haar man bystaan in die bediening van die Afrikaanse Protestante Kerk, eers op Parys en later op Vryheid, Uitenhage en Vryburg.

Die Jordaan-gesin is deur diep water toe hul jongste seun, Martin, sewe jaar gelede, opslag dood is toe hy by hul huis uit ’n boom geval het. Hy was maar in Gr.1 gewees.

“Die Vryburg-gemeenskap se liefde en ondersteuning in daardie tyd, sal ons altyd onthou en waardeer,” het me. Jordaan gesê.

“Ons gesin praat gereeld oor die mooi en snaakse dinge van Martin wat ons onthou. Dit help ons om sy dood te verwerk.”

Me. Jordaan se ander twee seuns is vanjaar onderskeidelik in Gr.11 en matriek by Privaatskool Hoëveldrif.

Haar man, ds. Martin Jordaan, is tans die predikant by die Afrikaanse Protestante Kerk op Standerton waar die gesin die afgelope vier jaar woon.

Me. Jordaan het gesê die lewenspas op Standerton is baie vinniger as wat dit op Vryburg was.

In haar vrye tyd geniet sy tuinmaak, lees en bak en brou.

Die gesin hou ook daarvan om nuwe plekke te verken en bordspeletjies te speel.

“Ons kyk nie graag televisie nie, maar Vrydagaande is ons gesin se fliekaande,” het me. Jordaan gesê.

Haar missie vir die skool is om te sien dat hul bekend sal staan as ’n skool met uitstekende akademiese standaarde en ’n Calvinistiese Christelike karakter.

“Elke kind moet hier weggaan met die wete dat hy of sy ons Skepper werklik ken en dat hul as jongmense in Sy Koninkryk gaan werk.

“Ons skool het ’n familie-gevoel waar die leerders soos broers en susters in die geloof saam grootword.”

Die skool se sportgeriewe is nog in hul kinderskoene en word stelselmatig verbeter.

Hoëveldrif het verlede jaar splinternuwe tennisbane wat ook as netbalbane benut sal word, ingewy.

“Ons volgende projek is ’n atletiekbaan.

“Die leerders het verlede jaar self inisiatief geneem en ’n fietsrydag gereël om geld vir die nuwe atletiektoerusting in te samel.

“Ons hou tans ons interhuis-atletiekbyeenkoms saam met Middelburg se CVO-skool totdat ons eie geriewe op standaard is.”

Volgens me. Jordaan is die skool reeds in die proses om geld in te samel vir vier matriekleerders se afskeid aan die einde van die jaar.

Die skool se eerste insamelingsgeleentheid, is ’n waenhuisdans wat later vanjaar sal plaasvind. Daarna is daar ’n fietsrydag wat op 30 Maart plaasvind by die skool.

“Ek droom daarvan om ’n koshuis te kan open en sal wil hê die skool moet in die toekoms landbouwetenskap as vak aanbied.

“Ons het idees vir ’n skoolorkes en dat ons skoolkoor kan groei.”

Die personeel en leerders wil ook graag meer betrokke raak by die gemeenskap.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button