Local newsNews

Jenet Muller wil nou kuns gebruik om kinders te help

Sy het by haar werk bedank en ’n franchise van Canvas Club gekoop wat sy binnekort van haar huis af wil bedryf.

SECUNDA – Kuns was me. Jenet Muller (47) se skuilplek en nou is dit haar reddingsboei.

Sy het opnuut vreugde in haar skeppende talent ontdek en beoog om binnekort haar kunsflytgenot met die omgewing se kinders te deel.

Me. Muller is veral gaande oor papierkuns en kan bykans enigiets daaruit optower – van kunsblomme tot ‘n pinata wat met lekkergoed gevul word.

Partytjies se dekor en versierings, en kosmaak en koekbak het nog altyd vir haar natuurlik gekom, en het sy graag deur die jare ingespring en familielede gehelp met hul groot geleenthede en kinderpartytjies.

“Ek sal gereeld oorboord gaan met detail, maar ek geniet dit terdeë,” het me. Muller vertel.

Sy het in die Secunda-omgewing grootgeword en het aan Hoërskool Evander gematrikuleer, maar het eers later jare werklik haar liefde vir kunsvlyt ontdek.

“Ek het nie kuns op skool gehad nie, want ek was te gedrewe om doemprofete oor my lewe verkeerd te bewys en het eerder vakke soos wiskunde en biologie geneem.

“Tog was dit vreeslik lekker toe ek as ATKV-leidster ‘n klaskamer gegee is om as ‘n koffiewinkeltjie te bedryf.

“Dit was heerlik om dié plekkie te versier,” het me. Muller vertel.

Maar die donker skadu wat verwerping en minderwaardigheidsgevoelens soms oor ‘n mens se lewenspad gooi, het me. Muller haar lewe lank agtervolg.

Die doemprofete in haar lewe, soos ‘n sekere onderwyser wat haar vertel het dat sy nooit enigiets in die lewe sou bereik nie, het aan haar geknaag.

Sy het ná skool verpleeg en het ook met haar skoolliefde, Henk, getrou.

Dié egpaar het twee kinders en nou ook ‘n geliefde kleinseun, Alfie.

Me. Muller wou altyd seker maak sy is beskikbaar vir haar kinders, maar het ook beroepe nagejaag waarin sy hoofsaaklik met syfers gewerk het.

“Ek wou almal wat gedink het ek sal nie suksesvol in die lewe wees nie, verkeerd bewys.

“Ek was so besig om myself te bewys, dat ek eintlik sielsongelukkig was,” het sy verduidelik.

Sy het allerlei skeppende vaardighede aangeleer, soos brei, makrami, papierkuns en koekversiering en het hierdie gebruik om haarself van die wêreld te onttrek.

“Ek vermoed die leë huis-sindroom na my kinders uit die huis is, het my ook gepak, en kort voor lank het ek daagliks van die werk af tuisgekom, aan ‘n projek begin werk en myself heeltemal van almal afgesluit.”

Me. Muller erken dat sy haar naderhand heeltemal onttrek en in depressie verval het.

Sy het selfs vir die Here gevra hoekom sy nog leef.

“So het ek 2019 ingekom. Henk het besef ek moes hulp kry en so het dinge begin verander.

“Nou is my skeppingsvermoë nie meer ‘n skuilplek net vir myself nie, maar het ek besef hoe belangrik dit is om hierdie talent met ander te kan deel.”

Me. Muller is gaande oor kinders en kinders is gek oor haar.

Sy het besluit om haar lewe op die kop te draai en dit waarvoor sy lief is, uit te leef.

Me. Muller het by haar werk bedank en ‘n franchise van “Canvas Club” gekoop wat sy binnekort van haar huis af wil bedryf.

“Ek is so opgewonde, want nou sal ek my liefde vir kinders en kuns kan kombineer en op ‘n skeppende manier ook vaardighede vir die kleingoed kan leer.”

“Canvas Club” se curriculum leer kinders van kleinsaf motoriese bewegings, ontwikkelingsvaardighede en om hul kunstigheid uit te leef.

Me. Muller omskep tans haar eetkamer in ‘n ateljee wat sy hoop sommer vol kleingoed sal wees.

Vir meer inligting, skakel me. Muller by 064 655 1482.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button