Veearts praat met perde-eienaars op Secunda en omgewing oor perdesiekte
Skakel dadelik ’n veearts as jy vermoed jou perd het perde-siekte

TRICHARDT – Dr. Willem Engelbrecht, veearts van Standerton, het onlangs, met perde-eienaars en die gemeenskap oor perdesiekte gepraat by Our Place op Trichardt.
Me. Susan van der Merwe, perde-eienaar, het die aand gereël om bewusmaking van dié siekte te skep omdat daar verskeie stories oor dié siekte is wat perde-eienaars bekommerd gemaak het.
Dr. Engelbrecht het gesê baie mense besef nie die erns van die saak nie en hy het wenke vir behandeling gegee as boere vermoed hul perde het perdesiekte.
“Perdesiekte is ‘n akute siekte wat deur ‘n muggie oorgedra word,” het dr. Engelbrecht gesê.
Dit is ‘n verklaarbare siekte en die staatsveearts in die omgewing moet in kennis gestel word as boere vermoed hul perde het perdesiekte opgedoen.
“Perdesiekte is nie aansteeklik nie. Jou perd of sebra word deur ‘n muggie gebyt en as jou perd koors het en siek is, is die virus aktief.”
Die perd se limfkliere swel en simptome kan by die perd se keel, lieste en agter sy boud gesien word.
Die kans dat jou perd die siekte sal kry, is in die laatsomer erger omdat die muggies dan meer aktief is.
“Dit is nou die grootste gevaartyd vir perdesiekte, maar dit sal na die eerste ryp ophou.”
Dr. Engelbrecht het oor die verskillende soorte perdesiekte-virusse, naamlik die dikkop en dunkop, gepraat en gesê as die perd die dikkop-virus het, kan hy deurgetrek word, maar met die dun kop is die kanse op oorlewing baie laag.
“Baie mense dink hul perde is koliek, terwyl hulle eintlik perdesiekte het.
“Die perd kan naderhand nie meer sluk nie en op die ou end verdrink die perd eintlik.
“Dit is egter belangrik dat die perd baie water moet kry in dié tyd.”
Hy het aanbeveel dat boere en perde-eienaars eerder dadelik ‘n veearts skakel as hulle vermoed hul perde het perdesiekte.
“Dit is gratis om vir perdesiekte te toets as jy die toets deur ‘n veearts laat stuur,” het dr. Engelbrecht gesê.
Hy het ook verskillende entstowwe aanbeveel wat boere kan gebruik om hul perde in te ent.
Dr. Engelbrecht het ook wenke gedeel om die kanse dat jou perd perdesiekte kry, te verminder.
“Ek laat my perde eers so 8.30vm of 9vm uitgaan en so 4nm laat ek hulle weer teruggaan stalle toe. Jy kan jassies oor jou perde sit en selfs insekmiddels gebruik.”
Hy het gesê dit is belangrik om volgens die voorgeskrewe tye van die jaar ‘n mens se perde in te ent.
Me. Van der Merwe het al die borge wat Our Place, Multi Save Supermark, Medico Apteek, Equi Shop, Nissan Secunda, Voerdokter, Pelipa Equestrian Wear, Executive Model, Seeff Properties en Mbizana Equestrian Centre in sluit, bedank.
Me. Van der Merwe beplan om binnekort weer so ‘n aand te reël en ‘n kenner sal dan oor ‘n ander onderwerp praat.




