Corné Coetzee leer honde beter maniere en gedragspatrone in Secunda
Me. Coetzee het 'n ooreenkoms met die Hoëveldrif DBV, Little Paws Big Hearts en Because Dogs & Co. dat sy gratis opleiding voorsien vir die eerste vier lesse aan mense wat honde deur dié organisasies aanneem.
SECUNDA – Me. Corné Coetzee (48) geniet haar beroep as honde-afrigter wat haar toelaat om daagliks met haar viervoetige vriende en hul eienaars te werk.
Sy rig al sedert 2014, toe sy haar eerste honde-afrigterskursus gedoen het, honde af in basiese gehoorsaamheid.
Sy het sedertdien verskeie meer gevorderde kursusse in honde-afrigting en hondegedrag gedoen.
Me. Coetzee het aan die einde van 2015 permanent haar beroep by Sasol verruil vir die honde-wêreld.
Toe haar tweelingdogters (9) laerskool toe is, het sy iets gesoek wat haar meer vrye tyd sou gee om die tweeling te ondersteun en na hul aktiwiteite rond te ry.
“Die heel eerste mense vir wie ek opleiding gegee het saam met hul honde, noem ek my slagoffers,” het sy laggend vertel.
Sy het toe gratis klasse aangebied omdat sy self nog in die babaskoene van dié nuwe rigting in haar lewe gestaan het.

Me. Coetzee meen, as honde-afrigter, moet ‘n mens ewe veel van mense en diere hou omdat sy daagliks met beide werk.
“‘n Hond se gedrag word gevorm deur die mense waar hy bly en alles gaan oor jou hantering van jou hond.
“‘n Hond leer die hele tyd, nie net vir die tydperk wat hy na my toe kom nie en ‘n hond leer uit die gevolge van sy aksies.”
Volgens me. Coetzee sal honde gedrag herhaal wat vir hulle goeie resultate tot gevolg gehad het.
“Soos byvoorbeeld, as jou hond iets doen wat jy wil hê hy moet doen en jy beloon hom met ‘n eetding, gaan hy dit bes moontlik weer doen.
“Dit moet ook gereeld by honde ingeskerp word, want hulle vergeet dit.
“Dit is dus belangrik as jou hond by ‘n hondeskool was, om gereeld dit wat hy daar geleer het toe te pas, want anders vervaag dit.”
Dit is belangrik dat honde van kleinsaf leer hoe om te sosialiseer sodat hy homself in enige omstandighede en veral in die publiek, kan handhaaf.
“Mense wat hulle honde vir die eerste ses maande van sy lewe heeltyd in die agter erf gehou het, kan nie een Sondagmiddag skielik besluit hulle wil met die hond gaan stap en verwag hy gaan aan ‘n halsband loop nie.
“Dit gaan traumaties vir die hond wees en moeilik vir die eienaar.
“‘n Hond verg baie liefde, tyd en aandag, hulle het meer nodig as om net een of twee keer daagliks ‘n bak kos te kry.”
Me. Coetzee help eienaars om hulle honde te laat sosialiseer en gepas op te tree in enige situasie.
“Eienaars moet honde gewoond maak aan wat hulle gaan verwag van hul honde in die toekoms.
“Honde het dieselfde DNA as wolwe en bly steeds diere al is hulle mak.
“‘n Bang hond gaan anders optree as ‘n hond wat baie liefde en aandag kry. Die bang hond sal dan eers stelselmatig gewoond moet raak daaraan om met mense en ander diere te sosialiseer.”
Leierskap in die verhouding tussen eienaar en hond is nog een van die belangrike aspekte waarna me. Coetzee kyk.

“Die hond moet weet jy is die leier in die verhouding.
“As jy byvoorbeeld vir hom kos gee, laat hom eers stilsit sodat hy weet dit is ‘jou’ bak kos totdat jy hom beveel het en toelaat om te eet.”
Me. Coetzee lei honde individueel op of saam met hul eienaars en soms in groepe.
Sy gaan ook na eienaars se huise en kan die hond by sy huis oplei of met gedragsprobleme help.
“Honde leer elke dag, hulle leerproses is 24-uur, sewe dae ‘n week. Omdat honde die hele tyd leer, kan bestaande gedragspatrone verander.”
Me. Coetzee het ‘n ooreenkoms met die Hoëveldrif DBV, Little Paws Big Hearts en Because Dogs & Co. dat sy gratis opleiding voorsien vir die eerste vier lesse aan mense wat honde deur dié organisasies aanneem.
Me. Coetzee het letterlik ‘n huis vol honde. Buiten die mense in haar huis, bestaan haar huishouding uit twee Labradors, twee Jack Russells en ‘n Yorkshire terriër.
Haar gunstelinghond is ‘n Labrador omdat sy meen hy goed by haar persoonlikheid pas en alles in een pakkie is.
“Die Labrador is mooi, slim, energiek en besig. Die Jack Russell is ‘n oulike hond wat genoeg hond is vir die man in die huis, maar oulik genoeg vir die vrou.”
Me. Coetzee het gesê sy hou egter van alle honderasse en het geen vooropgetelde idees oor sommige honderasse nie.



