Local newsNews

Oud-redakteur van Standerton Advertiser sterf skielik

“Hy het ink in sy bloed gehad, gekoppel met ’n spesiale talent om dit vir Jan Alleman te omskep."

Mnr. William Zwart, oud-redakteur van die Standerton Advertiser, sowel as sy pa Jan, is albei op 9 April, op Jan se verjaarsdag, oorlede.

Mnr. Zwart (sr.) wat met longkanker in die hospitaal opgeneem is, het die aand gesterf terwyl sy seun die oggend dood is.

Volgens mnr. Zwart (jr.) se eggenoot Carina, was dit ‘n groot skok.

“Ons het eintlik verwag dat oupa eerste sal gaan en die skok van William se dood het moontlik tot sy dood bygedra.”

Die dokter het aan die Zwarte verduidelik dat William se virale infeksie sy brein en hartspier aangetas het, waarna die breinaantasting ‘n epileptiese aanval tot gevolg gehad het, wat hartstilstand teweeggebring het.

Mnr. Zwart het in die destydse Suidwes-Afrika as politieke joernalis in die nuusafdeling van die Uitsaaikorporasie gewerk, maar na onafhanklikheidswording en Resolusie 435 van die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies se inwerkingtreding, is Suid-Afrikaanse werkspermitte opgehef.

Hy was vir ses maande werkloos en het daarna ‘n pos as skakelbeampte by die stadsraad op Standerton aanvaar.

Wyle ds. Louis Spies was destyds die burgemeester op Standerton.

Dié portefeulje het daartoe gelei dat hy die koerant dikwels besoek en nou saamgewerk het met mnr. Pierre Schnetler, destydse eienaar van die Standerton Advertiser.

“Joernalistiek was in sy bloed,” het me. Zwart gesê.

‘n Werksverandering het gevolg en hy en mnr. Schnetler het vir ‘n tyd saamgewerk totdat mnr. Schnetler die koerant aan die Caxton-groep verkoop het.

Mnr. Zwart het die leisels as redakteur oorgeneem totdat hy vir die pos as streekbestuurder op Middelburg aansoek gedoen het.

Die Zwarte het einde 2005 sak en pak na Middelburg verhuis en me. Zwart het haar onderwyspos by Hoërskool George Hofmeyr bedank.

Die pioniersbloed het in sy are gebruis en hulle seuns Ruben en Iain was nog jonk, toe William die Platinum Gazette in 2009 op Burgersfort in Limpopo begin het.

Die redaksionele span was juis op 10 April besig met ‘n huldeblyk vir hulle laaste uitgawe.

Mnr. Zwart het getrou naweke Middelburg toe gependel om naby sy gesin te wees.

Sy skoonouers, mnr. Koos en me. Ria Brink, is jarelange inwoners van Standerton en me. Brink het op 9 April die nuus aan die Standerton Advertiser oorgedra.

Me. Brink het gevra dat ons met mnr. Schnetler in verbinding tree en hy was ooglopend geskok.

Hy het William as begaafd, met ‘n geweldige algemene kennis en ‘n ondersoekende gees, sowel as met ‘n wonderlike sin vir humor, beskryf.

“William het nooit die galbitter van die lewe, ongeag die omstandighede, raakgesien nie.

“Hy het ink in sy bloed gehad, gekoppel met ‘n spesiale talent om dit vir Jan Alleman te omskep.

“Ook is die belange van die plaaslike gemeenskap as prioriteit gestel.

“So ‘n mens skop jy nie agter elke bossie uit nie.”

‘n Gesamentlike roudiens is op Saterdag 13 April naby Cullinan vir die 56-jarige William en die 76-jarige Jan gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button