Paul-Pieter en Luhandré is fluks aan die boer
Paul-Pieter, die predikantseun van die NG-dominee in Meyerville, het beken dat predikantkinders soms die stoutste is.
STANDERTON – Boesemvriende, Paul-Pieter Kotze en Luhandré Scholtz, deel ‘n belangstelling in voëlboerdery wat bykans elke oomblik van die dag in beslag neem.
Dié gr. 9 leerders aan Hoërskool Standerton is in dieselfde klas en bly ‘n klipgooi van mekaar in dieselfde woongebied.
Hulle het vlot en onderhoudend gepraat oor hulle stokperdjie wat geleidelik die vorm van ‘n besigheid aanneem.
“Ons doen alles saam,” aldus dié Dawid en Jonatan.
Bogenoemde is selfs die geval wanneer Luhandré en sy meisie saamkuier en Paul-Pieter het na homself as die derde wiel aan die wa verwys.
Albei se entoesiasme vir hul boerdery is aansteeklik.
Paul-Pieter, die predikantseun van die NG-dominee in Meyerville, het beken dat predikantkinders soms die stoutste is.
“Ek het 13 tarentale in my hangkas grootgemaak en my ma wou my omtrent doodmaak.”
Dan word nie eens gepraat van die voorval een Sondag nie.
“My pa het gepreek en my tarentale het in die voorportaal by die voordeur gestaan en skree.”
Pa Pieter het egter kop gehou en nie die stigtelikheid van ‘n erediens heeltemal versteur nie.
“Die tarentale wil ook kerk hou,” het hy gesê.
Luhandré daarenteen het na homself as ‘n ‘drama king’ verwys wat ‘n goeie aanduiding is van sy toekomsplanne.
Elize Cawood, akteur van formaat, was juis in die restaurant voordat die Standerton Advertiser opgedaag het en hulle het ‘n fotogeleentheid ten volle benut.
Paul-Pieter het tarentale en duiwe in hulle stoorkamer en ‘n broeipaar eendjies tel ook onder sy voëls.
“Tarentale en duiwe is maar ‘n lekker ding,” het hy gesê.
Die bedrag geld wat ‘n wedvlugduif op ‘n veiling haal, is terloops genoem en die inkomste wat uit sy boerdery gemaak word, word getrou gespaar.
Luhandré boer in ‘n hok met duiwe, eendjies, hoenders en hase.
Ander troeteldiere soos honde se instinkte beduiwel soms die hele spulletjie.
“Een oggend het die honde in die hok ingebreek en my duiwe gevreet,” het hy gesê.
‘n 10-meter draad is egter gespan en Luhandré het van meet af aan met duiwe en hoenders begin.
Finansiële insette vir kos en medisyne is ook ter sprake en albei het ‘n geskatte R250 per maand genoem. Onder hulle wakende oog is kos soos sorghum, sojabone en mielies die aangewese keuse.
“Sommige duiwe sal ook klippies eet om kos fyn te maal,” aldus Luhandré.
Paul-Pieter het aangedui dat wanneer hulle duiwe grond eet, ‘n mineraaltekort die oorsaak is.
Hulle het beken dat name gegee is aan hulle kosbare duiwe om met hulle te praat as hulle nie in hul spoor trap nie, byvoorbeeld wanneer hulle mekaar pik of begin nesmaak waar hulle nie moet nie.
Dié twee is ook nie links nie en steek sommer ‘n duif of wat onder hulle skoolbaadjies weg as kattekwaad die oorhand kry.
‘n Skoolopstel oor hulle duiwe is nie vergesog nie.
Paul-Pieter verkoop tarentale aan mense sover as Pretoria, Durban en Johannesburg.
Dié vrinne wat spog met hulle klein boerderye, het al ‘n keer of wat vasgesit, maar duidelik ‘n paar sakke sout saam opgeëet.




