Yolandi Huysamen is gek oor haar labradors
Teler hou van geel, swart en sjokolade-kleur labradors
SECUNDA – Me. Yolandi Huysamen kan, sedert sy in 2011 met labradors begin teel het, nie haar lewe sonder dié viervoetige vriende voorstel nie.
Sy en haar man, mnr. Riedeman Huysamen en hul twee kinders wat onderskeidelik 11 en 13 jaar oud is, het tans 10 honde.
Sy bestuur en besit Huntmore Labs wat ‘n geregistreerde telery is.
Me. Huysamen het haar eerste labrador, Duke, ‘n swart reun, in 2011 gekry.
“Ek het dadelik verlief geraak op Duke toe ek ‘n foto van hom gesien het en toe hy by ons kom bly het, het ek net al meer van die labrodors begin hou.
“Duke se persoonlikheid en die manier hoe hy is en op my kinders gereageer het, het my net nog meer van hom laat hou.”
Nog agt labradors het gevolg en die gesin het lankal reeds die Jack Russell, wat die oudste van al die honde is, gehad.
Me. Huysamen het later die geel en sjokolade-kleur labradors aangeskaf en gesê mense verwar baie kere labradors met ander honde wat in dieselfde honde-familie is soos die golden retriever.
Mense verwar ook gereeld die kleure van die labradors en dink hulle is wit en bruin, maar me. Huysamen het gesê die enigste drie kleure waarin die labradors voorkom, is swart, geel en sjokolade-kleur.
Al 10 die honde, asook die gesin se twee katte en twee pappegaaie, slaap in die huis.
Die labradors is almal opgelei. Me. Huysamen laat hulle aan veldtoetse (field trials) deelneem waar hulle opgelei word om voëls wat geskiet word, te gaan haal waar hulle val in die veld en na die eienaar terug te bring.
Me. Huysamen is deel van die ‘Labrador Retriever Kennel Club’ wat die veldtoetse reël.
“Die beoordelaars gee punte vir die honde op grond van in watter toestand die voël is as die labrador hom terugbring, asook hoe die labrador te werk gaan terwyl hy die voël opspoor,” het me. Huysamen gesê.
“Hulle kyk of die voël enige bytmerke of so op sy lyf het, want die jagter wat die voël geskiet het, wil dit sonder gebreekte ribbes of skade hê.
“Die labrodor se volle naam is ‘n Labrador Retriever, so hulle is gemaak om dinge op te spoor en na hul eienaar te neem.
“Hulle het sagte bekke en het dus die vermoë om die duif of haas wat die jagter geskiet het, sonder merke of skade op te tel en na die eienaar te neem.”

Soos wat die labradors aan dié veldtoetse deelneem, is daar vlakke wat moeiliker en meer ingewikkeld raak.
Die jagter sal later ‘n tweede voël skiet terwyl die eerste een nog op die grond lê, dan word daar van die hond verwag om eers die eerste voël op te spoor en na sy eienaar te neem en dan weer te hardloop en die tweede voël op te spoor.
In nog ‘n meer gevorderde fase, sal die organiseerders die voël wegsteek terwyl die hond nie sien waar die voël versteek word nie en dan moet die hond in staat wees om die voël steeds op te spoor en na sy eienaar te neem.
Dit verg baie tyd en harde werk om die honde op te lei om aan dié veldtoetse deel te neem.
Sommige van me. Huysamen se labradors leer vinniger as ander om dié opdragte suksesvol uit te voer.
“Duke raak te opgewonde met die veldtoetse en begin sommer voor die tyd al hardloop.
“So ek gebruik deesdae eerder die ander honde om die veldtoetse mee te doen.”
Me. Huysamen gebruik ‘n fluitjie om haar honde by die veldtoetse mee te roep. Sy het gesê hulle is baie slim en tussen 20 honde-eienaars wat hul honde roep met fluitjies, sal haar honde net op haar fluitjie reageer en dadelik kom as sy hulle roep.
Haar doelwit is om aan nuwe honde-eienaars die bes-geteelde en gesondste klein hondjies te gee.
Me. Huysamen sit dus baie moeite in voordat die kleintjies gebore word totdat hulle op agt weke na hul nuwe eienaars gaan.
Sy werk by Sasol as ‘n P & ID-herleier en ry graag perd in haar vrye tyd.




