Local newsNews

DA se Athol Trollip kla oor hoë werkloosheid

Volgens hom, vind verdagmakery van die party sowel uit die regse as linkse politieke groeperings plaas.

Mnr. Athol Trollip, federale voorsitter van die Demokratiese Alliansie (DA), het die party se verkiesingsveldtog op 26 April by Over the Moon op Standerton begeesterd voortgesit.

Mnr. Rosier de Ville, raadslid vir Wyk 10, het gaste, wat ondersteuners, sakelui, inwoners en seniorburgers ingesluit het, verwelkom.

Die DA-ampsdraer van die Nelson Mandelabaai-metro het mnr. De Ville terstond die bynaam ‘Mr Delivery’ gegee met inagneming van die reëlings vir die byeenkoms.

Mnr. Trollip het van meet af aan die werkloosheidskrisis in Suid-Afrika bespreek waarvan ‘n beraamde 50 persent jongmense is.

Hy het kommer uitgespreek dat jongmense nie goed verteenwoordig by die geleentheid was nie.

Die regerende party se retoriek het daarna onder skoot gekom met verwysing na senior ANC-lede wat mekaar weerspreek, onder meer oor nasionalisering van die Reserwe Bank en onteiening sonder vergoeding.

Hy het genoem dat hy die vendusiekrale besoek en eerstehands boere se insette gesien het.

“Moet nie Suid-Afrikaanse boere afskryf nie,” het hy gesê. Volgens hom vind verdagmakery van die party sowel uit die regse as linkse politieke groeperings plaas.

Kernkwessies soos werkvoorsiening, misdaad, nasionale grense wat oopgestel is en korrupsie het ook aandag geniet.

Die Standerton Advertiser het vooraf die kans benut om met mnr. Trollip persoonlik te gesels waar hy klem daarop gelê het om die persepsie dat tradisionele ondersteuners afgeskeep word, die nek in te slaan.

Swaargewigte soos mnr. Tony Leon en me. Helen Zille is ingespan om deel te vorm van die verkiesingspan.

Die afwaartse ekonomiese groei en beleggingsvertroue in Suid-Afrika stem hom ook tot kommer.

“Mense het ons nie ‘n kat se kans gegee in Tshwane, Johannesburg en Port Elizabeth nie, maar ek bring ‘n storie van hoop.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button