Local newsNews

Vanessa van Rooyen smee bande sover as sy gaan

“As iemand vir my sê ek kan iets doen, wat ek nie gedink het ek kan doen nie, is ek bly.”

Vir baie inwoners in die middedorp is dit glad nie ‘n ongewone gesig om Maximed Apteek se aflewerings per hand van me. Vanessa van Rooyen en haar vriend, mnr. Dries Lourens, te ontvang nie.

Die Standerton Advertiser het ietwat van ‘n slenter gebruik om met Vanessa te gesels en maak geen fout nie, sy was goed op hoogte van die onderbreking in watertoevoer twee weke gelede.

Haar selfoonkontaklys is propvol vriende wat getrou ge’WhatsApp’ word elke aand met ‘n goeienagboodskap en soggens met ‘n verwelkoming tot die nuwe dag.

“Ek het nogal baie vriende op WhatsApp,” aldus Vanessa.

Die vraag oor hoeveel data gebruik word, is beantwoord met die databondel wat die kommunikasielyne oophou.

Vriende maak is geen probleem nie vir dié 28-jarige.

“Ek is mos ‘n mens wat gou aan iemand gewoond raak.”

Sy het beken dat mense wat nie hul beloftes nakom nie haar die harnas injaag, maar met mense wat in haar glo, is dit ‘n totaal ander storie.

“As iemand vir my sê ek kan iets doen, wat ek nie gedink het ek kan doen nie, is ek bly.”

Haar lagspiere sal geprikkel word met ‘n komedie en Leon Schuster se There’s a Zulu On My Stoep beklee die ereposisie.

By die Afrikaanse popmusiekmusiekmark is Pieter Koen en Dirk van der Westhuizen die gunstelinge met eersgenoemde se Boobs Boude Bene en Van der Westhuizen se Sexy Vi My wat onder die grotes tel.

Die Van Rooyens het in 2005 Standerton toe getrek en hul Pinetown-tuiste in Durban vir die Hoëveld verruil.

Vanessa het by Golden Hours in Durban, ‘n skool spesifiek gerig op leerders met spesiale behoeftes, skoolgegaan.

Haar vriende is geensins verbaas om ‘n foto te ontvang van pa Chris wat braai of die eindresultaat van ma Libbie se koekies, as Vanessa die ‘icing’ gedoen het nie.

“Ons braai een naweek en maak potjiekos die ander naweek.”

Vanessa het ook slegs lof vir haar ma se melktert.

Sy het vyf hondjies, wat haar kinders is, waarvan geeneen durf sleg praat nie en moet nie van die budjie vergeet nie.

Vanessa het natuurlik geswem aan die Suidkus en nou draf sy, wanneer omstandighede dit toelaat, ‘n Saterdag of wat by die parkrun en is ook op 21 Maart by die Goldi-marathon opgemerk.

Haar afskeidswoorde kan die wind uit menige mens se seile haal.

“Ek is nie bang vir pyn nie,” het sy gesê met verwysing na besoeke aan haar gunstelingtandarts wat haar nie angstig maak nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button