Tweedehandse boekwinkel open deure op Secunda
Besoek Die Boekspens van Maandae tot Vrydag tussen 9.30vm en 5.30nm
SECUNDA- Me. Mirna Steyn was nog altyd lief vir tweedehandse boekwinkels en ‘n jarelange droom is bewaarheid toe sy in April vanjaar Die Boekspens, haar eie tweedehandse boekwinkel, oopgemaak het.
“Ons het drie vertrekke in ons huis omskep in Die Boekspens,” het me. Steyn gesê.
Haar man, Johan, het die naam uitgedink.
“Ons het ‘n spens gebou en in daardie week het my man gesê hoekom noem ons nie die tweedehandse boekwinkel Die Boekspens nie.”
Nie net bied Die Boekspens ‘n wye verskeidenheid boeke vanaf kinderboeke tot romantiese verhale en fiksie nie, maar boekwurms kan ook gemaklik in die leeshoekie sit en Nespresso of tee en ‘n koekie geniet terwyl hulle lees.

Die Boekspens se eie ‘sekuriteitswag’, Mielie die langbeen foksterieër, loop jou tegemoet om te groet as jy by Die Boekspens instap.
“Mielie is ‘n optelhond,” het me. Steyn gesê.
“My man het haar op die myn gesien en ‘n week later navraag gedoen toe hy haar nie weer gesien het nie.
“Hy het gehoor dat sy DBV toe geneem is omdat sy iemand op die myn wou byt.
“Hy het haar dadelik gaan haal en sy het deel van ons gesin geword.”
Me. Steyn het nog altyd van die lekker atmosfeer gehou as sy ander tweedehandse boekwinkels in Johannesburg, Natal, Gordonsbaai en ander klein dorpies besoek het.

Die Boekspens se opening was op 18 April en me. Steyn het lede van boekklubs in die omgewing genooi.
Dié tweedehandse boekwinkel se amptelike opening vir die publiek was op 24 April.
Me. Steyn het al vir langer as ‘n jaar voor die opening, boeke begin bymekaar maak om in die boekwinkel te verkoop.
“Ek het baie goeie boeke uit Secunda gekry.
“Ek dink vir ‘n industriële dorp het Secunda ‘n baie belese gemeenskap.”
Me. Steyn het op Secunda grootgeword en haar graad in B Mus verwerf aan die Universiteit van Potchefstroom voordat sy na Secunda teruggekeer het en as onderwyser by verskeie skole op die dorp gewerk het.
“Ek het meestal as aflosonderwyser gewerk, want ek wou ook tyd saam my kinders deurbring,” het me. Steyn gesê.
Sy was van kleinsaf lief vir lees en haar gunsteling boeke is Engelse romanse.
Jill Mansell is haar gunsteling skrywer.
Sy geniet ook ‘n goeie moordverhaal of misdaadfiksie.

“Lees is vir my ontspannend.”
In haar vrye tyd kyk sy graag flieks of kuier en braai saam met vriende.
Een van me. Steyn se goeie vriendinne, me. Loraine Janse van Vuuren, werk saam met haar in Die Boekspens.
Die Boekspens het al besoekers vanaf Johannesburg en ander dorpe gekry wat baie beïndruk met dié tweedehandse boekwinkel was.
Me. Steyn se suster, me. Magdel Pretorius, verkoop die boeke by markte en ander geleenthede.
Lesers wat ‘n boek by Die Boekspens gekoop het en wil terugneem, sal ‘n derde van die prys afslag kry op die volgende boek wat hul koop.
Die Boekspens is geleë in Pierneefstraat 17 in Secunda en is oop van Maandae tot Vrydae vanaf 9.30vm tot 5.30nm.
Parkering is beskikbaar oorkant Pierneefstraat 17.




