
BETHAL – Die egpaar wat op 27 aanklagte van onder andere seksuele dade teenoor hul eie kinders teregstaan, is tans in aanhouding.
Hulle het op Dinsdag, 11 Junie in die streekhof op Secunda verskyn en is reeds skuldig bevind.
Hulle sal op Vrydag, 5 Julie gevonnis word.
Die landdros, Graham Cupido, het Dinsdag in die hof gesê die pa (beskuldigde 1) word skuldig bevind op 10 aanklagte en die ma (beskuldigde 2) op nege en albei op agt aanklagte.
Die egpaar het onskuldig gepleit op al 27 aanklagte en beweer die kinders, wat reeds in die hof getuig het, jok.
“Hulle het twee van hul kinders verkrag, seksueel aangerand, mishandel en doelbewus verwaarloos,” het Cupido gesê.
Die oudste drie kinders is beskuldige 2 se kinders vanuit ‘n vorige huwelik en die jongste twee is haar kinders by beskuldige 1.
Die landdros het ook in die hof gesê dat die vrou glo die man met die oudste kinders gelos en saam met ‘n ander man na Ermelo verhuis het.
Van die jonger kinders was toe nog nie gebore nie.
Sy en beskuldige 1, het egter in 2005 weer getrou.
Die kinders is in dié tyd, wat die vrou weg was, weggeneem en het in ‘n plek van veiligheid en by hul grootouers gebly.
Die kinders het oor naweke en gedurende skoolvakansies kontak met hul ouers gehad.
Beskuldigde 1 het glo in dié tyd wat beskuldige 2 weg was, een van die dogters as sy tweede vrou gebruik wanneer hy dronk was.
“Hy het haar betas en seksueel aangerand,” het Cupido in die hof gesê.
Die man het glo ook saam met twee van die dogters in die bed geklim en volgens die hof was daar geld vir alkohol, maar nie vir kos nie.
Die oudste seun moes glo na sy jonger broers en susters omsien en vir hulle kosmaak.
Cupido het gesê beskuldigde 1 het duidelik sy getuienis oor die gebeure aangepas en gesê die oudste seun, wat toe 12 jaar oud was, wou met hom seksueel verkeer.
Beskuldigde 2 (oudste seun se ma) het gesê haar ouers het die seun beïnvloed en hy was ‘n stoute kind.
Sy het ook gesê sy het altyd vir die kinders kosgemaak en was ‘n goeie ma.
Cupido het gesê die vrou het ook getuig dat al die volwassenes gereeld dronk was en net die kinders was nugter.
Volgens Cupido was van die getuies wat getuig het oor die beskuldigdes se karakters en dat hulle goeie ouers was, nie betroubaar nie omdat hulle duidelik net daar was om die beskuldigdes te beskerm.
Die landdros was onder die indruk dat nie beskuldigde 1 of -2 werk nie, maar die man het skielik Dinsdag in die hof gesê dat hy, as ‘n algemene werker, by ‘n onderneming op Wellington in die Kaap werk.
Hy het glo ses maande gelede by dié onderneming begin en is aangestel as ‘n permanente werker.
Me. Tracey Keen-Horak, die staatsaanklaer, het gesê die beskuldigdes het ernstige dade gepleeg en die minimum vonnis vir sulke dade is lewenslange tronkstraf.
“Beskuldigde 1 sê nou hy het onlangs werk gekry in die Kaap, maar hy is minstens vir die laaste drie weke op Secunda vir die hofsaak, so hoe kan hy dan in die Kaap werk?” het me. Keen-Horak gesê.
Sy het bygevoeg dat beskuldige 1 beweer sy gesondheid ly onder die voortduur van die hofsaak en dat hy ‘n hartaanval gehad het, maar die hof het nog geen mediese briewe of bewyse ontvang nie.
“Beskuldigde 2 sê sy ly aan asma, maar die hof het ook nog geen mediese brief of sertifikaat ontvang nie,” het me. Keen-Horak bevestig.
“Hulle sal dan dus veel beter af in die tronk wees omdat daar ‘n hospitaal wat na hul mediese probleme kan omsien is.
“Rakende hul oortredings, dit is alles seksuele oortredings op hul vyf kinders en daar is minstens een oortreding op elke kind.
“In al die jare wat ek met die dinge werk, is dié van die ergste dade nog wat ek al gesien het, wat dié twee teenoor hul eie kinders gepleeg het. Ek sien geen aanduiding van spyt by een van hulle oor wat hul gedoen het nie.”
Me. Keen-Horak het gesê dit wat dié twee ouers aan hul kinders gedoen het, het ‘n negatiewe impak op hul kinders se lewens.
Van die kinders ly aan sekere toestande, een van die kinders is tans in ‘n kinderhuis en een van die kinders het glo gesê: “Ek sit en huil as ek dink aan die lelike goed wat mamma en pappa my geleer het.”
Me. Keen-Horak het die egpaar as seksuele predatore beskryf en gesê sy glo die samelewing moet teen sulke mense beskerm word.
“Ouers is in ‘n posisie van vertroue en die beskuldiges het daardie posisie misbruik.”
Sy het gesê die staat besef die beskuldiges het self moeilike lewens gehad toe hulle grootgeword het omdat hulle sonder ouers grootgeword het, maar juis daarom moes hul beter ouers vir die kinders wees.
“Hulle het dieselfde lewens wat hulle as kinders gehad het, vir hulle kinders geskep.
“Duidelik het die twee beskuldigdes gedink hulle gaan wegkom daarmee.
“Die sisteem het dié vyf kinders gefaal omdat hulle, nadat hul misbruik is, by hul ouers teruggeplaas wat hulle verder verkrag en misbruik het.
“Die staat versoek dus dat die minimum vonnis opgelê word,” het me. Keen-Horak afgesluit.



