BETHAL – Die man wat sy kinders seksueel aangerand het, is op Vrydag, 5 Julie in die streekhof op Evander lewenslank tronk toe gestuur.
Die man en sy vrou, die ma van vyf kinders, het albei op 27 aanklagtes van onder andere verkragting van hul kinders en seksuele aanranding tereggestaan.
Die vrou is op 12 aanklagte van seksuele oortredinge en kinderverwaarlosing gevonnis en sal 25 jaar agter tralies moet deurbring.
Landdros Graham Cupido het tydens die egpaar se vonnisoplegging gesê hy glo die vrou is deur die man beïnvloed om die dade te pleeg en dat sy dit gedoen het om hom tevrede te stel.
Landdros Cupido het die verkragtings in die hof bestempel as wreed, ‘n skending van die slagoffers se waardigheid en privaatheid en gesê dié verkragtings is soos ‘n spreekwoordelike kanker in die gemeenskap.
“Dit is veragterlike en neerhalende oortredings en die erns van die verkragtings word verswaar deur die ouderdomme van die jong slagoffers,” het landdros Cupido gesê.
Die kinders was tussen vyf en 15 jaar oud toe dié dade gepleeg is.
“Die ouers was in ‘n posisie van mag en vertroue en het die misdade gepleeg by die kinders se ouerhuis waar hulle veronderstel was om veilig te voel.”
Landdros Cupido het gesê seksuele misdrywe kom gereeld voor in Suid-Afrika en volgens 2017 en 2018 se statistieke is meer as 50 000 seksuele sake by die polisie aangemeld.
“Baie slagoffers van seksuele misdrywe meld dit nie aan nie weens verskeie redes,” het landdros Cupido gesê.
Die egpaar het van hul 13-jarige seun verwag om as ouer op te tree omdat hy na sy jonger broers en susters moes omsien.
“‘n Kind op daardie ouderdom moet toegelaat word om ‘n kind te wees.
“Julle het geld gehad vir alkohol en om partytjie te hou, maar nooit vir kos nie.
“Die hof wil ‘n duidelike boodskap oordra dat ‘n ouer wat sy of haar pligte versuim, nie geduld sal word nie.”

Die man het glo vir die kinders gesê hulle mag vir niemand sê wat hy met hulle doen nie.
Landdros Cupido het gesê die verkragtings en misdrywe wat die egpaar teen hulle vyf- en agtjarige kinders gepleeg het, is die ergste en veragtelikste wat hy al teëgekom het.
“Hoe enige ouers hul kinders aan sulke dade kan onderwerp, gaan my verstand te bowe,” het landdros Cupido gesê.
“Ek wil my afkeur uitspreek teenoor dié gedrag, geen kind verdien dit om aan sulke dinge blootgestel te word nie.
“Wat het dié twee volwassenes gedink? Dit is siek.”
Landdros Cupido meen die gemeenskap moet beskerm word teen die egpaar en die gemeenskap verwag van die hof om ‘n ernstige en regverdige vonnis op te lê.
“Die hof het die beskuldigdes se persoonlike omstandighede in ag geneem.
“Die beskuldigdes het geen berou getoon nie en ander familielede en die oudste kind kwalik geneem.”
Die egpaar het onskuldig gepleit op al 27 aanklagte en die man het in die hofgange vir mense gesê hulle het niks gedoen nie en word onskuldig tronk toe gestuur.
Die man het tydens ‘n vorige hofverskyning gesê die oudste seun, teen wie hy ook seksuele misdrywe gepleeg het, het voordeel uit hom getrek.
“Die feit dat die seun so emosioneel was en gehuil het in die hof toe hy getuig het, wys hoe dit hom geraak het,” het landdros Cupido gesê.
Landdros Cupido het gesê hy stem saam met die staatsaanklaer, me. Tracy Horak-Keen, dat die stelsel die kinders nie genoeg beskerm het nie. Die kinders is vroeër jare van die egpaar weggeneem, maar later weer in hul sorg geplaas en die seksuele misdade het weer begin.
“Die betrokke partye kon meer gedoen het om seker te maak die kinders is veilig.”
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/ridge-times/140504/bethal-egpaar-bly-aanhouding-vir-seksuele-dade-met-hul-kinders/



