Annatjie Steyn van Standerton het passie vir bejaardes
“Baie mense kan dit nie verstaan nie, maar om iemand voor te berei en daar vir hulle te wees wanneer hulle sterf help my om te weet, voor hulle weg is kon hulle vrede maak en rustig sterf.”
Me. Annatjie Steyn, tydelike matrone by Kosmosaftree-oord, het voorwaar ‘n passie om met bejaardes te werk.
Sy is vanaf Junie vanjaar tydelik tot verdere kennisgewing as matrone aangestel.
Me. Steyn het vertel: “Ek probeer om die personeel bymekaar en gelukkig te hou. Dit is belangrik om jou werk te geniet. Bejaardes lê my baie na aan die hart en ek het ‘n passie vir mense. Ek was nog altyd dienslewerend teenoor bejaarde persone en glo dat die werk wat ek nou doen, my bestiering is.”
Tans probeer sy om pasiëntesorg te vebeter deur prosesse en roetine in plek te sit en hou.
Die vorige matrone, me. Marlene Griesel, het aktiwiteite aangebied waaruit inwoners altyd iets kon leer.
Hoewel sy nie meer as matrone werksaam is nie, is sy steeds betrokke en het onlangs weer inwoners geleer hoe om popklere met die hand te maak en stik.
Me. Steyn se doel is om goeie omvattende sorg te lewer.
Sy probeer om die personeel gereeld te motiveer en beweeg saam met hulle op die vloer.
“Ek kan nie stil sit nie. Dit is vir my lekker om saam met die personeel te beweeg en te sien waar die tekort en behoeftes is. Bejaardes waardeer fisiese aanraking. Een van die belangrikste doelwitte vir my is om ons inwoners hul menswaardigheid te help behou. Die lekkerste vir my is wanneer ek hulle oë kan sien blink.”
Hulle beoog om elke Donderdag aktiwiteite vir inwoners van dié tehuis en ook die woonstelbewoners aan te bied.
Wanneer dit ‘n heerlike dag buite is, word die wat die moed het na buite geneem om die sonlig te geniet. Een van haar ander passies wat vir meeste vreemd klink, is om met sterwende pasiënte te werk.
“Baie mense kan dit nie verstaan nie, maar om iemand voor te berei en daar vir hulle te wees wanneer hulle sterf, help my om te weet dat hulle vrede maak en rustig sterf.”
As jy ‘n aktiwiteit kan aanbied, skakel Kosmosaftree-oord by 017 712 2278.



